Dit is die eerste keer dat 'n groep akteurs, en nie 'n individu nie, met hierdie toekenning wegstap. Teaterghoeroe Saartjie Botha se stuk bestaan uit 'n rolverdeling van 24 en handel oor mans se versugting om gehoor te word in die hedendaagse Suid-Afrika. Hierdie drama, waarin musiek en fisieke teater vervleg word, val saam met Botha se Afrikaans Onbeperk vir haar Vernuwende Denke-verering by vanjaar se Kanna-toekennings.
Sandra Prinsloo is verder bekroon as beste aktrise vir haar uitnemende spel in die eenvrou-vertoning, Oskar en die Pienk Tannie, Hennie van Greunen se blitsverkoper-komedie Die Leo's, waarin sy die verhoog deel met onder meer Tobie Cronje, en Liefde, Anna, wat handel oor die lewe van die veteraan-aktrise, Anna Neethling-Pohl. (Volledige lys wenners onderaan).
Erns Grundling, die sameroeper van die Kanna-paneel wat die Absa KKNK se genomineerdes aanwys, sê vanjaar se groter program het 'n reuse uitdaging gebied vir dié paneel. In die omgewing van 120 feesproduksies moes beoordeel word. volgens hom was een van die hoogtepunte beslis die produksies by die Baanbreek-venue wat gesorg het vir vernuwende en kopverskuiwende teater.
Baanbreek is drie jaar gelede as Absa KKNK-venue ingestel om 'n tuiste te bied vir nie-verbale, visuele en fisieke teater en is vanjaar deur die Kanna-paneel as die "broeikas" van toneel by die fees beskryf. Baanbreek lewer vanjaar drie Kanna-toekennings op, waaronder Jayne Batzofin se Pruttel, as Beste Debuutwerk, met Nieke Lombard en Luvuyo Mabuto in die rolverdeling; Nieke Lombard se volwasse poppespel-stuk, Elnora en Nirvana, as Kopverskuiwende werk van die jaar. Lombard ontvang verder ook die Slurpie Kanna vir Beste Opkomende Kunstenaar.
By Donderdag se toekennings het Brett Pyper, die uitvoerende hoof van Kuns Onbeperk, die maatskappy wat die Absa KKNK aanbied, die tweede kompetisie vir teks-ontwikkeling aangekondig. Hierdie kompetisie, wat met die ondersteuning van die Dagbreek Trust aangebied word, is oop vir alle skrywers, gevestig en opkomend, solank as wat die persoon nie voorheen 'n drama gepubliseer of op die planke gebring het nie. Die wenner ontvang R50 000 en die geleent-heid om sy/haar wenvoorstel saam met 'n gesoute dramaturg en regisseur vir die Absa KKNK te ontwikkel.
Lys van Kanna-wenners:
Absa KKNK Slurpie Kanna vir Beste Opkomende Kunstenaar – Nieke Lombard (vir Elnora en Nirvana)
Absa KKNK Kanna vir Beste Visuele Kunsaanbieding – Cobus van der Bosch (vir die uitstalling, Vergete verledes)
Sarie Kanna vir Beste Aktrise – Sandra Prinsloo (vir haar spel in Die Leo's, Liefde, Anna en Oskar en die pienk Tannie)
Brandhouse Kanna vir Beste Akteur – Balbesit Ensemble
ATKV Kanna vir Beste Regie – Lara Bye (vir Oskar en die pienk Tannie)
KykNET Kanna vir Beste Klassieke Musiekuitvoering – Bravissimo! The South African Soprano's
Computicket Kanna vir Beste Musiekproduksie – Dreams - Chris Chameleon & Suid-Kaapse Kinderkoor
ATKV Kanna vir Beste Teateraanbie-ding – Oskar en die Pienk Tannie
Absa Herrie Kanna vir Kopsverskuiwende werk – Elnora en Nirvana
Absa Kanna vir Beste Debuutwerk - Pruttel
Vererings:
Kuns Onbeperk ken vanjaar, naas die gebruiklike Afrikaans Onbeperk-toekennings, ook vererings toe in die drie nuwe Kuns Onbeperk-kategorieë: Diens aan die Kunste, Lewensbydrae en Kruispunt. Hierdie toekennings vereer die prestasies van kunstenaars in 'n groter Suid-Afrikaanse konteks en met die Lewensbydrae word daar gefokus op 'n rolspeler in die kunste wat die Suid-Afrikaanse kunste ook op 'n internasionale vlak bevorder het. Die Kuns Onbeperk Kruispunt gaan aan 'n kunstenaar of rolspeler in die kunste wat kruisbestuiwings tussen kunstenaars – oor grense heen – bewerkstellig.
Afrikaans Onbeperk-toekennings:
Afrikaans Onbeperk vir Vernuwende Denke – Saartjie Botha
Media24 Afrikaans Onbeperk vir Lewensbydrae –Dot Serfontein
Kuns Onbeperk-toekennings:
Kuns Onbeperk vir Diens aan die Kunste – Ton Vosloo
Kuns Onbeperk vir Lewensbydrae - Dorothy Masuka
Kuns Onbeperk vir Diens aan die Kunste – Temple Hauptfleisch
Kuns Onbeperk Kruispunt – Karen Zoid

Die hele ensemble van 24 akteurs van die Absa KKNK teaterproduksie, Balbesit, is met die Brandhouse Kanna vir Beste Akteur-toekenning bekroon. Foto: Hans van der Veen.