VERMAAKNUUS - Mirre en aalwyn, Nicola Hanekom se nuwe plekspesifieke drama, is vir sewe Kanna-pryse na afloop van hierdie jaar se KKNK, wat van 1 tot 9 April in Oudtshoorn plaasgevind het, genomineer.
Mirakel uit die pen van Reza de Wet onder regie van Marthinus Basson, Droomkraan Kronieke die fisieke teaterstuk as deel van die KKNK se Karoo Kaarte-projek en Ver in die wêreld Kittie, David Kramer se nuwe musiekspel is elk vir vyf Kannas genomineer.
Die fel omstrede kroon van Edward II & Gaveston, ook onder regie van Basson met teks deur Tom Lanoye, het drie nominasies ontvang. Drie lede van die geselskap uit die klug Afval, 'n produk van die US Dramadepartement se Première Teaterfees, is vir opkomende kunstenaar genomineer.
Woordmusiek met teks, regie en musiek deur Coenie de Villiers het twee nominasies ontvang.
Rafiek Mammon, sameroeper van die Kannapaneel, sê vanjaar se besprekings was moeilik en uiteenlopend, met werke van hoogstaande en uitnemende gehalte wat gesien is.
"Dit is tog hoe dit hoort. Ons moet daardie besprekings hê, om die moeilike besluite te neem en betekenisvolle vooruitgang te laat geskied. Die omvang van werke by vanjaar se KKNK het 'n wye spektrum onderwerpe ingesluit. Op die diverse program was vars, nuutgeskrewe musiekteater, 'n musiekspel, plekspesifieke – en tradisionele teater met vele asemrowende ontwerp, regie en spel wat op die planke in die Klein-Karoo te sien was," vertel Mammon.
Kannapaneel
Vanjaar se Kannapaneel was Mammon, Diane de Beer, Ilse Klink, Felicia Lesch en Fahiem Stellenboom.
Slegs die 27 debuutproduksies by die fees het vanjaar vir Kannas in aanmerking gekom, met die uitsondering van opkomende kunstenaars. Die Kannas word op 5 Mei tydens 'n spesiale funksie by Leopard's Leap in Franschhoek oorhandig.
Die 28ste KKNK, geborg deur Absa, vind van 23 tot 31 Maart 2024 in die Klein Karoo, plaas.
Vir meer inligting, besoek kknk.co.za of kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur 'n WhatsApp na 065 285 2337.
Mirakel
Ver in die wêreld Kittie
Mirre en aalwyn. Foto's: Hans van der Veen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’