Die vertoning was deel van 12 vertonings wat Louw landwyd gratis doen om geld in te samel vir Canca Relay for Life. Tydens die eerste deel van die program het die kore van Principia Primêr, Laerskool van Reede en Junior Primêr luide applous uitgelok met altesaam 13 liedjies. Een van Van Reede se liedjies is opgedra aan Christa Steyn wat vroeër vanjaar aan kanker oorlede is.
Die gewilde Louw, wat in Oudtshoorn gebore is, het die gehoor laat wipplank ry tussen uitbundige saamsing en saamklap met lekker lawwe liedjies soos Maroelaboom, waartydens hy 'n splinternuwe danspassie bekendgestel het, en diep nadenke met liedjies oor die liefde en die pad wat 'n kankerlyer moet loop.
In 'n huldeblyk aan die ontslape Lucas Maree, wat ook die stryd teen kanker verloor het, het hy snitte uit Lucas se liedjies gesing terwyl fotobeelde van die saggeaarde sanger op 'n groot skerm vertoon word.
In 'n vernuftige interaksie met video-beelde het Louw die verhoog ook "gedeel" met Kevin Leo in 'n duet van Voshaarnooi wat hulle in die film Liefling gesing het. Die hoogtepunt van die aand was ongetwyfeld die laaste gedeelte waar meer as 150 kinderstemme van die skoolkore saam met Louw gesing het.
Volgens Yvette Lötter, voorsitter van die plaaslike Cansa Relay for Life was die pu-bliek se ondersteuning van die aand uitstekend. "Ek is baie gelukkig met die aand, dit was 'n groot sukses en 'n uitstekende begin vir ons aanloop tot 2013 se Relay for Life." het sy Woensdag gesê. Geld wat met die vertoning en al die ander projekte van Relay for Life ingesamel word, word aan Kansa beskikbaar gestel vir pasiënte versorging en navorsing.
Die Oudtshoorn Courant wat as deel van Group Editors, mediaborg vir Cansa Relay for Life is, sal lesers op hoogte hou van Relay-projekte met die aanloop tot volgende jaar se groot deurnagstap.

'n Paar van die koorlede van Junior Primêr (Geel), Principia Primêr (blou) en Laerskool van Reede (groen en wit) wat Dinsdagaand saam met Jakkie Louw opgetree het ten bate van Cansa Relay for life.