OUDTSHOORN NUUS - Die bestuur van Kunste Onbeperk het hulle onderneming van verlede jaar om inwoners by die beplanning van die KKNK te betrek, hierdie week nagekom.
Ongeveer 50 inwoners het Dinsdagaand 'n gespreksessie oor die komende Klein Karoo Nasionale Kunstefees 2020 by die Ostrich Emporium bygewoon. Tydens die geleentheid is die twee nuwe aanstellings op Kunste Onbeperk se span ook aan die mense voorgestel.
Lizané Basson (algemene bestuurder) en Jenna-Leigh Bilong (bemarkings- en kommunikasiebestuurder) het inwoners uitgenooi om met hulle te skakel met enige voorstelle of navrae. Albei het die afgelope twee weke in hulle poste begin.
Basson het na Oudtshoorn verhuis terwyl Bilong, wat ook 'n nuusleser op SABC 3 is, tussen Oudtshoorn en Johannesburg sal pendel.
Tydens die gesprek van bykans een en 'n half uur het inwoners verskeie voorstelle gemaak wat moontlik vir die KKNK-program oorweeg kan word. Volgens Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, is alle voorstelle aangeteken sodat die bestuur daarna kan kyk en oorweeg.
Van die idees wat vorendag gekom het was onder andere sterrekyk, aanbiedings van intieme produksies by huise, toere na versteekte grotte, fliekaande en optredes by die sportgronde op Lategansvlei en 'n area waar plaaslike produkte bemark kan word.
Verskeie mense het ook insette gelewer oor moontlikhede om weer jonger mense en studente na die fees te lok.
Skryf-teater en danswerksessies is ook voorgestel waardeur die plaaslike jeug deur die jaar betrek kan word. Daar was ook voorstelle dat die KKNK benader moet word as iets wat die dorp vir 365 dae betrek en nie slegs vir die feestyd nie.
Theart het daarop gewys dat borgskappe wel steeds gegee word, maar dat die uitdagings om nuwe borge te kry, groot is. "Ons wil 'n beroep op plaaslike besighede doen om borgskappe aan te bied en dit hoef nie in die vorm van kontant te wees nie."
In 2020 word die KKNK vir die 26ste keer aangebied en vind vanaf Dinsdag 24 Maart tot Sondag 29 Maart plaas.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'