KAROO NUUS - Die terugkeer van plekspesifieke teater na die KKNK-program is tydens vanjaar se Kannas met drie pryse beloon.
Teatermaker Nicola Hanekom se Mirre en aalwyn het aan feesgangers die geleentheid gebied om teater in die pragtige Klein-Karoo te ervaar.
Dié drama het op Vrydag 5 Mei tydens die Kannas, wat uitsonderlike kreatiewe bydraes by die KKNK beloon, drie Kanna-pryse ontvang.
Hanekom is bekroon vir beste literêre bydrae vir haar oorspronklike teks, asook as beste regisseur. Die produksie, met Amalia Uys, Daneel van der Walt, Gretha Brazelle en Alyssa van Reenen in die rolverdeling, is ook as beste toneelaanbieding bekroon.
David Kramer se nuwe musiekspel, Ver in die wêreld Kittie, is bekroon met die Kanna vir beste musiekaanbieding, asook beste ensemble vir die spel van Dean Balie, Jenny Stead, André Terblanche en Rushney Ferguson, wat die verhaal van Josef Marais, Rosa De Miranda, Kittie Jaftha en Koos Heuningbek uit die 1950’s vertel.
Neil Coppen en Craig Leo is bekroon vir die ontwerp en konsep van die fisieke teaterstuk Droomkraan Kronieke, die tweede teaterproduksie wat as deel van die KKNK se Karoo Kaarte-projek geskep is.
Dié produksie is saamgestel uit ’n reeks Oudtshoorn-kinderstories en -herinneringe uit kinderdae van deelnemers wat tydens projeknavorsing na vore gekom het.
Plaaslike akteurs, dansers en musikante is ingesluit by die produksie (asook die hele projek wat al vanaf 2021 bestaan).
Karoo Kaarte, wat vanjaar ondersteun is deur die ATKV, is ’n multidissiplinêre kunsteprogram wat in Oudtshoorn lewe kry. Die projek is vir die tweede jaar met die Herrie-prys vir innovasie of grensverskuiwende werk bekroon.
Dawid Minnaar (Mirakel) en Wicus Pretorius.
Diane de Beer vertel namens die Kannapaneel oor dié besluit: “Karoo Kaarte draai rondom Oudtshoorn-stories. Sodoende word ’n lewende argief saamgestel deur almal wat wil deelneem aan dié opwindende projek, wat reeds baie gedoen het om die KKNK een van die mees inklusiewe feeste in die land te maak.
Die sukses van Karoo Kaarte lê daarin dat dit bestuur word deur mense wie se harte en arms oopstaan om almal van die gemeenskap wat wil deelneem te betrek. Vanjaar het die inspirerende fisieke teaterproduksie, Droomkraan Kronieke, met kinderspeletjies, -herinneringe en -drome harte gesteel. Ek was geheel en al oorrompel deur die verbeeldingryke spel en storie, wat saam met al die ander elemente van Karoo Kaarte, bygedra het tot die welverdiende erkenning.” Ander elemente van dié projek het ’n toepassing, kinderstorieboek, kunsuitstallings, werksessies en Zines ingesluit.
Dawid Minnaar is bekroon vir beste vertolking vir sy spel in Mirakel, terwyl Liza Grobler die Absa-Kanna vir beste visuele kunsaanbieding ontvang het vir haar uitstalling, Inkommers, laatkommers & laatlammers, asook die Droom-installasie waaraan sy saam met die plaaslike Oudtshoorn ReWOLusie gewerk het.
Margit Meyer-Rödenbeck en Deon van Zyl is vir die tweede agtereenvolgende jaar met die Kanna vir beste kinderteateraanbieding bekroon, dié keer vir Liewe Heksie vang vis. Gita Fourie is as beste opkomende kunstenaar bekroon vir haar teks van die klug, Afval, wat as deel van die Universiteit Stellenbosch Dramadepartement se Première Teaterfees ontwikkel is en ook aangebied is as deel van die KKNK se Teksmark.
Die Slurpie-prys, ’n spesiale prys aan ’n jong belangrike stem is geborg en toegeken deur NATi. Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi het die wenner aangekondig en dié prys aan Veronique Jephtas oorhandig, vir die konsep en haar bydrae as skrywer en speler in My kroon se krank.
Die digter Lynthia Julius was medeskrywer en die drama was onder regie van Tinarie van Wyk Loots, met Lee-Ann van Rooi as vervaardiger.
Alwyn van Zyl het die Kanna vir uitnemende tegniese bydrae ontvang, ’n prys wat sedert 2018 ingestel is om erkenning te gee aan die harde werk wat tydens die KKNK agter die skerms plaasvind. Zonika van Zyl het die Kanna vir opkomende tegniese talent ontvang.
Kannas is in 13 kategorieë oorhandig, nadat die KKNK se 27 debuutproduksies van 1 tot 9 April deur die onafhanklike Kannapaneel beoordeel is. Werk wat nie by die KKNK gedebuteer het nie, is ook vir die Kanna vir beste opkomende kunstenaar in ag geneem. Die Kannapaneel is Rafiek Mammon (sameroeper), Diane de Beer, Ilse Klink, Felicia Lesch en Fahiem Stellenboom.
Prysgeld is geborg deur Absa (hoofborg van die KKNK), ATKV, Beans about Coffee Oudtshoorn, Castle Lager, Herotel, Het Jan Marais Nasionale Fonds, Kunste Onbeperk, NATi, Ton en Anet Vosloo en Wicus Pretorius. Wenners se beeldjies is gemaak deur Haidee Nel en Owen Claasen.
Van links is David Kramer, André Terblanche, Renaye Kramer en Dean Balie (Ver in die wêreld Kittie).
Neil Coppen (links) en Craig Leo (regs) van Droomkraan Kronieke, saam met Peter Dorrington van Herotel (middel).
Nuwe datums
Die 28ste KKNK, geborg deur Absa, vind van 23 tot 31 Maart 2024 in die Klein-Karoo plaas, terwyl Klein Karoo Klassique vanjaar van 4 tot 7 Augustus in Oudtshoorn aangebied word, met Teksmark wat van 28 Augustus tot 1 September in die Baxter-teatersentrum in Kaapstad aangebied word.
Vir meer inligting, besoek kknk.co.za of kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Die volledige lys van Kanna-wenners is:
Kanna vir beste aanbieding – toneel, geborg deur die Het Jan Marais Nationale Fonds
Mirre en aalwyn
- Kanna vir beste aanbieding – musiek, geborg deur Castle Lager
Ver in die wêreld Kittie
- Kanna vir beste aanbieding – visuele kuns, geborg deur Absa
Liza Grobler – Inkommers, laatkommers & laatlammers, asook die Droom-installasie
- Kanna vir beste vertolking, geborg deur Wicus Pretorius
Dawid Minnaar – Mirakel
- Kanna vir beste literêre bydrae, geborg deur NATi
Nicola Hanekom - Mirre en aalwyn (oorspronklike teks)
- Kanna vir beste regisseur, geborg deur ATKV
Nicola Hanekom – Mirre en aalwyn
- Kanna vir beste ensemble, geborg deur Kunste Onbeperk
Ver in die wêreld Kittie
- Kanna vir beste ontwerp en tegniese bydrae, geborg deur Herotel
Craig Leo en Neil Coppen vir die konsep en ontwerp van Droomkraan Kronieke
- Kanna vir beste aanbieding – kinderteater, geborg deur Kunste Onbeperk
Liewe Heksie vang vis
- Kanna vir beste opkomende kunstenaar, geborg deur Ton en Anet Vosloo
Gita Fourie – Afval (teks)
- Herrie-prys vir innovasie of grensverskuiwende werk, geborg deur Kunste Onbeperk
Karoo Kaarte
- Slurpie-prys, geborg deur NATi
Veronique Jephtas
- Kanna vir uitnemende tegniese bydrae, geborg deur Beans about Coffee Oudtshoorn
Alwyn van Zyl
- Kanna vir opkomende tegniese talent, geborg deur Pieter-Jan Kapp
Zonika van Zyl
Yolisa Mlungwana (links) en Johann Kruger (regs) van Absa, saam met Liza Grobler (middel).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’