“Dit is ’n voorreg om Hannes van Wyk op ons bestuurspan te verwelkom. Ons is baie opgewonde oor die bydrae wat hy gaan maak om Kunste Onbeperk te bevestig as ’n geloofwaardige stem in die kunstebedryf,” sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk.
Van Wyk, bekend as akteur en TV-aanbieder, is meer as 25 jaar by die kunste betrokke in verskillende kapasiteite. “Die feit dat ek ’n akteur én vervaardiger is en dat ek op die verhoog, sowel as in televisie werk, help dat ek die verskillende fasette van die bedryf verstaan. Dit sal my goed te staan kom in hierdie ongelooflike nuwe rol,” sê van Wyk.
Van Wyk is passievol oor kunstefeeste: “Hier vind jy ’n plek waar ’n verskeidenheid mense in geborgenheid bymekaar kom om die kunste en kultuur te deel. Wat veral vir my uitstaan van die Absa KKNK, is die eiesoortige karakter wat Oudtshoorn aan dié fees verleen.”
Van Wyk glo die Absa KKNK moet ’n genotvolle ervaring aanbied, maar dat besoekers ook moet wegstap met ’n blywende indruk van ’n unieke ervaring. “Die Absa KKNK roer jou hartsnare en die melodie wat so geskep word, is wat jy saam met jou huis toe neem.”
Van Wyk wil in sy nuwe rol seker maak dat ’n jonger generasie aan die kunste blootgestel word en dat nuwe produksies langer speelvakke deur die jaar geniet, ten spyte van begroting-uitdagings. “Kreatief-wees beteken vir my om buite die gewone raamwerk te dink,’’ sê Van Wyk.
Van Wyk is vanjaar op die verhoog by die Absa KKNK te sien in die pantomime Liewe Heksie Flower Power as Koning Rosekrans en hy is die gespreksleier van die gespreksreeks Bravo! In die Karoo. Hy sal ook steeds as ’n aanbieder op Bravo! te sien wees.