OUDTSHOORN VERMAAKNUUS - Meer as 150 musiekliefhebbers was Dinsdagaand op hulle voete om twee uitmuntende pianiste staande toe te juig.
Die internasionaal bekende Oudtshoorniet, Sulyaman Human, en een van sy leermeesters, die bekende John Theodore, het Dinsdagaand by die Cape Karoo Ostrich Emporium opgetree.
Oudtshoorn Kunstevriende wat die aand aangebied het, was verstom oor die reaksie.
"Die optredes wat sedert April verlede jaar hier aanbied word, word oor die algemeen goed ondersteun, maar vanaand se reaksie was oorweldigend," het Antoinette le Roux Dinsdagaand gesê.
Verskeie bekende musikante soos Charl du Plessis, Niël Rademan, Zanta Hofmeyr, Matthew Reid en Bottomless Coffee het reeds by die Emporium op uitnodiging van Oudtshoorn Kunstevriende opgetree.
Le Roux sê hulle het nog nie die volgende kunstenaar se optrede bevestig nie, maar hulle sou intussen graag van inwoners wou weet hoe hulle die aanbiedings tot dusver ondersteun het.
Inwoners wat hulle reaksie met Le Roux wil deel kan vir haar 'n e-pos na tonie1@telkomsa.net stuur of 'n WhatsApp of SMS na 084 567 1030.
Musiekliefhebbers het die Cape Karoo Ostrich Emporium Dinsdagaand volgepak. Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'