Daar's weemoed in sy liedjies, so asof hy nie kan ophou verlang na dit wat verby is, na 'n klompie mense wat vooruit is nie. Dis hoe ek Gert Vlok Nel, digter, liedjieskrywer en swerwer, met sy vertoning Saterdagaand in The Showroom in Prins Albert ervaar.
Maar Sondagmiddag, toe ek en vriende 'n middag lank saam met hom kuier, kom ek nader aan die gelukkige, dieptevrede mens. Die een wat weet wie hy is en waar hy vandaan kom. Wat hom nie doodbekommer oor die dag van môre nie, omdat hy weet nóú se geluk bepaal môre se leef.
Ek leer ken die storieverteller, die fyn waarnemer, die man met 'n aweregse humorsin. Iemand wat wys hy gee om vir die mense naaste aan hom. Maar ook die uiters private mens wat nie aan sy binnegoed gekrap wil hê nie. Wat dit wat vir hom doodeenvoudig is, nie ingewikkeld laat maak deur die wêreld en sy dinge nie.