DE RUST VERMAAKNUUS - 'n Kortfilm wat uitsluitlik deur 'n groep De Rusters gemaak is, word Saterdagaand op De Rust op die ‘silwerskerm’ van die NG Kerksaal vertoon. Volgens Ben Pretorius, regisseur en vervaardiger van Lemoenbloeisel is slegs die musiekregte ingevoer; die res is eg-De Rust.
Die film van ongeveer 50 minute gaan oor ‘n lekeprediker (Bernard Delport) wat van sy gewete en sy gemeente vlug nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy ‘n kroegman (Henno Paetzold) met ‘n baksteen bygedam het.
Hy soek skuiling in ‘n afgeleë Karoo-werkershuisie, maar sy lewe verstrengel met die nuwe eienaars, ‘n kunstenares (Lanie-Marié Roets) en haar subtiel psigotiese man (Marnus Barnard) wat ‘n moordstorie probeer skryf.
“Lemoenbloeisel is ‘n drama, maar soms ook vrek snaaks,” sê Ben. “Ek dink mense sal verras wees hoe professioneel die film gemaak is. Dit het maande se beplanning en ‘n hele paar dae se skiet gekos om die film te maak.”
As voorprent word Die Spookhuis vertoon. Dit is ‘n kortfilm van Daleen Engelbrecht onder mentorskap van die beroemde Koos Roets. Daleen en haar man, Schalk, is van George. Saam met die Klaarstroom Amateur Kinematograwe (Klak) kom hulle gereeld in Klaarstroom byeen en dan word daar ernstig flims gemaak.
Henno Paetzold vertolk die rol van ‘n kroegman uiters oortuigend aangesien hy in lewende lywe die eienaar en kroegman van die Kaalgat Koedoe is waar van die tonele verfilm is.
Die Spookhuis, se rolverdeling is die bekende akteurspaar Lida en Johan Botha en De Rusters Niekie Eksteen en Ben Pretorius.
Die fliekaand begin om 18:30 en kaartjies is vooraf beskibaar by die De Rust NG kerkkantoor en Village Trading Post en ook by die deur die aand met die vertoning.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'