Die konsert is ‘n gewilde jaarlikse instelling en word vanjaar op 16 en 17 September in die NG Kerksaal in Le Rouxstraat in die dorp gehou. Die akteurs, wat die laaste vier maande onverpoos in hulle eie tyd oefen, is inwoners van De Rust en omgewing.
Die Liefde is 'n Luukse is 'n klug geskryf deur Guy Paxton, en spesiaal vertaal in Afrikaans. Dit is aangepas om by die De Rust omgewing (of enige Klein-Karoo dorpie) in te pas. Die konsert is ongeveer 120 minute lank.
Storielyn
Coenraad Potgieter, 'n regiseur en produksiebestuurder van Kaapstad, is in die moeilikheid. Sy vrou verdink hom van ontrouheid en hy en 'n vriend vlug weg na 'n gasteplaas in die Klein-Karoo. Dinge begin egter vinnig skeef loop wanneer 'n jong meisie hulle huishoudster is, in plaas van haar bejaarde moeder...
Die storielyn is vol pret en opwinding, met 'n paar heerlike verrassings. Almal - jonk en oud - sal daarby aanklank vind.
Die klank en beligting word deur Johan Brooks van Oudtshoorn hanteer. Die dekor is die handewerk van Glendine Voster en Mariza Meyer. Almal sal nog die baie suksesvolle produksie Konsternasie in die Ketel, wat verlede jaar op die planke gebring is, onthou. Die saal was toe vol bespreek en almal wat dit bygewoon het, het dit terdeë geniet. Dié jaar beloof om nog beter te wees.
Formaat
Vrydagaand, 16 September se konsert begin om 18:30 vir 19:00 waartydens ’n aansit-driegang-maaltyd bedien word vir net R120 per persoon. 'n Kontantkroeg is beskikbaar. Saterdagaand 17 September begin die konsert om 18:30 vir 19:30 en die koste beloop R50 per persoon - onbespreekte sitplekke. Ligte verversings, koeldrank en 'n kontantkroeg is beskikbaar.
Die opbrengs gaan na liefdadigheid en die herstel van die ou historiese kerksaal.
Kaartjies is te koop by die kerkkantore van die NG Kerk Oudtshoorn-Suid en NG Kerk De Rust, die Village Trading Post en Landmark in De Rust.
Kontak Brende Brits by 082 359 5051 of Hannerie Delport by 084 403 3400 vir navrae.
Kom kyk self hoekom De Rust Kwêla en Rapport se Dorp van die Jaar 2011 is!
‘n Toneel uit verlede jaar se konsert, Konsternasie in die Ketel.