Jan-Erik Swart, koorleier van die SKK, sê hulle is baie opgewonde om by Klassique op te tree. “Ons beskou Klein Karoo Klassique as ons grootste binnelandse optrede van die jaar en ag dit belangriker as enige van die ander produksies waaraan ons in Suid-Afrika deelneem. Klein Karoo Klassique bied aan koorlede ’n geleentheid om die verhoog met uitnemende klassieke kunstenaars te deel, iets wat goud werd is vir enige ontwikkelende sanger”, vertel Swart.
Hulle deel op Sondag, 14 Augustus om 12:00 die verhoog met gerekende sopraan Noluvuyiso Mpofu en klarinetspeler, Junnan Sun, vir ’n program met musiek van onder andere Handel, Gershwin, Mozart, Pachelbel en Koos du Plessis, by die pragtige Surval Boutique Olive Estate net buite Oudtshoorn.
Die SKK is in Mei vanjaar met ’n eerste plek tydens die Europese Musiekfees vir Jongmense gekroon. Swart sê dit was een van die mees positiewe ervarings wat die koor nóg gehad het. “Ons het tydens die beoordeling die enigste staande toejuiging in ons kategorie ontvang en het die eerste plek met lof in die vlagskip kinderkoorkategorie verwerf. Drie ure daarna het ons aan ’n wenners-konsert en ’n massa-skouspel deelgeneem. Dit was ’n onvergeetlike ervaring”, sê hy.
Volgens Swart beplan die koor, bekend vir sy passievolle engelstemme, ’n formidabele repertorium wat buitengewone groeperings van stemme en die benutting van venue-uitleg insluit. “Daarmee saam word die SKK met die pragstem van Mpofu en die virtuose klarinetspel van Sun in verskeie werke wat die gehoor met unieke verwerkings gaan betower, gekombineer.”
Swart sê die ATKV Afsluitingskonsert is ’n moet sien vir alle liefhebbers van klassieke musiek, omdat die uitvoering drie diverse kompetisiewenners vir die eerste keer op een verhoog saambring, waar hulle kan spog met hulle beste werke. “Tog is die aanslag van die uitvoering van so ’n aard dat oud en jonk die inhoud van die program sal geniet.”
Dit is die tweede keer dat die SKK betrokke is by die laaste uitvoering van Klassique. Hulle optrede by verlede jaar se fees was volgens Swart ’n hoogtepunt in dié koor se geskiedenis. “Suid-Afrika in Refrein met Jannie Moolman en Loveline Madumo was ’n manjifieke konsert en ’n waardige afsluiting van Klassique.”
Sondag by Surval
Klein Karoo Klassique word vanjaar afgesluit met ’n gesellige dag by Surval Boutique Olive Estate. Feesgangers kan voor die begin van Baroque Trio: Handel in die voorkamer (10:00) ontbyt hiér geniet. Tussen die twee uitvoerings kan heerlike wyne van onder andere Neethlingshof, Royal Rhino, Baleia Wines, Leopard’s Leap en Ormonde geproe word. ’n Smul-middagete met Karoo-cuisine word na afloop van die ATKV Afsluitingskonsert (12:00) voorgesit. Kaartjies na uitvoerings sluit nie etes en wynproe in nie.