Mpofu het ’n algehele tweede plek behaal, die gehoorprys én prys as beste Suid-Afrikaanse deelnemer by die kompetisie, een van die grootste sangkompetisies in die wêreld, ontvang. “Dit was wonderlik om op eie bodem aan dié kompetisie deel te neem, met my familie en vriende wat my deur die loop van die kwalifiserende rondtes kon ondersteun. Die pryse was egter die kersies op die koek”, sê sy.
“Ek sien baie daarna uit om by Klein Karoo Klassique op te tree en my talent met mense te deel wat die kuns van musiek geniet en waardeer”, sê sy. Dit is die tweede jaar dat Mpofu by Klassique optree. Sy was in 2013 as finalis van ATKV-Muziqanto in die Mimi Coertse Galakonsert te sien, asook tydens Haydn’s Nelson Mass. Mpofu is ’n lid van Kaapstad Opera.
Volgens Ilse Schürmann, vervaardiger van die ATKV Afsluitingskonsert namens die ATKV, is dié uitvoering uniek aangesien die kunstenaars nog nie vantevore saamgewerk het nie. “Die kunstenaars bied ’n unieke kombinasie van ’n baie hoë standaard en die gehoor kan vermaak van hoogstaande gehalte verwag”, sê sy. Schürmann beskryf Klein Karoo Klassique as ’n baie belangrike toonvenster vir Suid-Afrika se voorste klassieke musiektalent.
Mpofu was in 2015 die wenner van ATKV-Muziqanto, die grootste jaarlikse klassiekesangkompetisie in Suid-Afrika, Sun die wenner van ATKV-Muziq in 2015, die grootste jaarlikse klassieke instrumentale kompetisie en die Suid-Kaap Kinderkoor het in Mei vanjaar die eerste plek (met lof) tydens die 64ste Europese Musiekfees vir Jongmense in België verower.