PRINS ALBERT NUUS - Die kunstenaar Hennie Boshoff, van Prins Albert, wat verlede week na 'n kort siekbed in sy slaap gesterf het, word deur sy vriende beskryf as uniek en eiesoortig, 'n ware vriend, steunpilaar, streng mentor en iemand wat jou uitgedaag het om nie net te aanvaar nie, maar te dink.
Boshoff, wat hom nege jaar gelede hier gevestig het, was saam met sy lewensmaat, Rossetta Woolf, die eienaar van Villa Kruger, die interessante huis op die bult in Magrieta Prinsloostraat, met 'n uitsig oor die hele dorp, en veral bekend vanweë die talle kunswerke en beelde in die huis en tuin.
Villa Kruger is ook die plek waar die 'After Dark'-besigtigingstoere vir toeriste en kunsliefhebbers plaasgevind het.
Boshoff was in sy laat sestigs.
Woolf haal in 'n huldeblyk die skrywer Orson Welles aan om Boshoff te beskryf: "He was some kind of a man."
En sy goeie vriend Wilhelm Vincent sê: "Ek het nog nooit iemand soos hy ontmoet nie. Ons lewensreis deur ons moedertong was vreemd in- en deurmekaar geweef.
"Ek kon nie vir 'n strenger mentor gevra het nie. Dissipline is werklik waar als begin. Hy het my lewe verander. Ek sal hom altyd koester."
Isak Williams, Boshoff se regterhand en vriend, skryf dis vir hom swaar om te weet dat “jy jou werkgewer en vriend nooit weer sal sien nie. Dankie vir nege jaar se kennis”.
Volgens nog ‘n werknemer, Trudie Williams, sal hy baie gemis word. “Jy was deel van my lewe, my werkgewer en vriend. Ons het partykeer verskil, maar ons was altyd daar vir mekaar. ”
"En Jan van der Merwe sê “daar is nou ’n leemte in Villa Kruger. Waar hy nou is, is hy veilig”.
Die kunstenaar en kunshistorikus Elza Miles, ook van Prins Albert, was 'n goeie vriendin van Boshoff en Woolf.
Sy het in 'n artikel vir die tydskrifboek Pomp (2011) oor Boshoff en sy tuiste geskryf het, met die titel: 'Tussen skapies-einde en Aleph: 'n museum sonder mure'.
Villa Kruger is geleë op die pad na 'n abattoir, sê sy, "waar 'n tuin met drie indrukwekkende beeldhouwerke jou opval.
Hul gebaretaal roep 'n andersoortige choreografie op.
Hulle noop jou om Villa Kruger te besoek – die verbeeldingryke tuiste vir Boshoff en Woolf se uiteenlopende kunste".
Miles beskryf Villa Kruger as 'n ruimte "waar geen mure die kunsskeppings inhok nie".
Die beeld "Le fou" (die gek) by die tuinhekkie is "die enigmatiese figuur, die randfiguur wat by geen sisteem of orde inpas nie".
"Dekades vol lewenservaring moes verloop eer Hennie sy selfopgelegde ballingskap in die buiteland kon ophef.
"By Villa Kruger in Clarens, Switserland, die plek waar Anna M Louw se Groot Gryse in ballingskap sterf, het hy besef dat die tyd aangebreek het om huiswaarts te keer.
"Dit was Boshoff se pelgrimstog na sy werklike begin."
Hy het eers die kunstehuis Blou Piet in KwaZulu-Natal ingerig, daarna saam met Woolf na Prins Albert verhuis.
Vir Miles was Boshoff iemand wat sin gevind het in "durende vernuwing", wat Villa Kruger "se aanbod aan die samelewing sinryk opsom".
Villa Kruger sal as 'n huldeblyk aan Boshoff se kunsvisie bly voortbestaan.
ARTIKEL: MARLENE MALAN, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Karoo nuus'