Van die 21 werke wat sy saamgebring het, is bykans die helfte binne drie dae verkoop. "Die Klassique-fees was 'n uitstekende tyd om uit te stal. Die mense wat kom kyk het, het 'n liefde vir die kunste. Dit is heeltemal anders as die KKNK," het sy Sondag gesê. Sy vertel dat sy van plan was om Sondag teen eenuur op te pak, maar daar was soveel belangstelling dat sy die uitstalling oopgehou het tot later die middag.
Lidi, wat vir bykans 17 jaar in Oudtshoorn gewoon het, het verlede jaar Strand toe verhuis. Sy was vir etlike jare die eienaar van Karoo Blues in Baron van Reedestraat. Die veelsydige kunstenaar doen al vir 23 jaar beeldhouwerk. Sy het aanvanklik vir twee jaar potte gemaak, maar toe voltyds begin beeldhouwerk doen.
Haar beelde is van klei en afwerking wissel van metaalagtige glasuur tot diep blou, pers en aardse kleure. Sy het vir jare gebruik gemaak van 'n elektriese pottebakkersoond, maar het twee jaar gelede oorgeslaan na 'n paraffienoond.
"Dit is baie ingewikkelder as 'n elektriese oond, maar dit is baie meer ekonomies. Ek kan hom op enige plek gebruik en is nie afhanklik van 3-fase krag nie." Die tema van haar uitstalling was Verhouding tussen mens en natuur waar die natuur deur interessante visse uitgebeeld word en interaksie het met menslike figure.
Sy het in die gebou van die Queens-hotel uitgestal, langs die bekende grafiese kunstenaar John van Reenen wat 'n groot reeks van sy unieke werke ten toon gestel het. Lidi se laaste uitstalling in Oudtshoorn was twee jaar gelede by die KKNK toe sy lirieke van Amanda Strydom se liedjies in haar beelde gestalte gegee het.

Beeldhouer Lidi de Waal by twee van haar beelde tydens haar suksesvolle uitstalling verlede naweek tydens die Klein-Karoo Klasique. Foto: Hannes VisserEen van die beelde wat die tema 'Die verhouding tussen mens en natuur' uitbeeld. Foto: Hannes Visser.