OUDTSHOORN NUUS - B-boy Da Vinci oftewel Leonardo Kiewiets, was verlede Saterdag die topbriekdanser by die Red Bull BC One-danstoernooi wat by die Toekomsrus-gemeenskapsaal aangebied was.
Die Red Bull BC One word as die grootste danstoernooi van sy soort wêreldwyd beskou en vanjaar was die 16de keer dat dit aangebied is.
Die seremoniemeester van die dag was oudergewoonte Earlyn Cloud tesame met 'n rymkletsvertoning deur die kunstenaar Weerblitz wat die gehoor op hul voete gehad het.
Vanjaar was dit Kiewiets, 'n gebore Oudtshoorniet, se tweede keer dat hy dié gesogte titel sedert 2021 wen nadat hy verlede jaar in die eindronde vasgeval het.
B-boy Da Vinci het uit die staanspoor gewys dat hy 'n harde tameletjie gaan wees om te kou toe hy een van die gunstelinge, B-boy Culture, geklop het om 'n eindstryd met verlede jaar se wenner, B-boy Jandre te bespreek.
Die twee het mekaar behoorlik opgekeil in die bepalende drie-ronde stryd met innoverende danstegnieke wat die skare histeries gehad het.
B-boy Da Vinci in aksie.
Een van die uistaande aspekte van dié twee briekdansers wat uitgestaan het was hul ongelooflike stamina en energie met elke ronde sonder enige teken van moegheid - 'n testament van hul fiksheid en voorbereiding.
"Ek is baie tevrede oor hierdie wen omdat ek verlede jaar se verloor nie goed gevat het nie. Ek moes teruggaan, reflekteer en daarvan mentally genees voordat ek weer vir vanjaar se chyper geoefen het. Aan die einde van die dag was al my opoffering die moeite werd en sien ek nou uit na die nasionale eindstryd waar ek beplan om selfs sterker en fikser te wees as wat ek vandag was.
"Ek het gevoel hoe my energie in die laaste ronde van die eindronde klein bietjie gedaal het, so ek weet daar is harde werk wat voorlê," het hy gesê.
Volgens Da Vinci is hy ook baie gesteld met wat hy eet juis omdat dit 'n direkte inpak het op sy dansroetine en stamina wat daarmee gepaard gaan.
B-boy Da Vinci sal nou die 29ste April in Kaapstad aan die nasionale eindronde deelneem. Sou hy daar ook amok maak, sal hy sy tasse pak na die internasionale ronde wat einde van die jaar in Frankryk (Parys) gehou sal word.
Die rymkletskunstenaar Weerblitz het die gehoor op hul voete gehad met sy lirieke.
Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'