Gallery Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Met die 29ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) wat oor drie weke begin, is Oudtshoorn besig om sy vere reg te skud.
Een van die mees sigbare tekens van voorbereiding is die transformasie van die ingangsbrug vanaf George na Oudtshoorn, in 'n kleurvolle baken.
Hierdie permanente plekspesifieke kunswerk is deel van die KKNK se visuele kunste met die tema Diepe Grond.
Die projek op die brug is een van vier plekspesifieke kunswerke in die Rond en bont-reeks; Rond en bont: Die Brug, Rond en bont: Die polisiekantoor, Rond en bont: Toor Bos, en Rond en bont: Skeepvragshouer.
Rond en bont: Die Brug strek oor 40 m aan beide kante van die pad en is die breinkind van die KKNK se kurator vir visuele kunste, Liza Grobler. Sy het die bekende kunstenaar Norman O'Flynn genader om saam met Hoërskool Oudtshoorn se gr. 10- tot gr. 12-kunsleerlinge en hul kunsonderwyser, Tiffany Howard, 'n treffende projek te skep wat as 'n kreatiewe en verwelkomende ingang na die dorp dien.
VIDEO - KKNK 2025 Visuele Kuns • Die brug:
Norman O'Flynn Foto: Liezl van Niekerk
O'Flynn, wat sedert 2021 in Oudtshoorn woon, is veral bekend vir sy skilderye op akrielglas en sy beeldhouwerke in marmer en klip. Vir hierdie projek, getiteld Future Vision, het hy besluit om iets binne die Popkuns-genre te skep - 'n kunsstyl wat ontstaan het in die 1950's en bekend is vir sy helder kleure en eenvoudige, alledaagse beelde.
"Die idee was dat dit moet uitstaan. As mense daar verbyry, moet hulle die oë sien."
Grobler en O'Flynn verduidelik dat hulle vooraf met die leerders gewerk het aan die projek.
Liza Grobler en Norman O'Flynn.
"Hierdie was nie net lukraak beplan nie. Die kinders is leerders wat kuns as vak by die skool het en hulle moes gaan navorsing doen oor oë en wat hulle wou teken. Hulle het vier verskillende oë geteken en ek het hulle leiding gegee oor hul sketse. Ons het daarna op groter papier geoefen sodat hulle die gevoel kan kry vir die area waarop hulle gaan werk."
Grobler verduidelik dat hulle die landskap ook in ag moes neem.
"Ons kon nie kleure gebruik wat nie by die landskap gaan saamsmelt nie. Daarom het ons blou gekies. Ons wou ook nie te veel detail in die oë sit nie, want ons wil nie die motorbestuurders se aandag aftrek nie."
O'Flynn sê daar is soveel simboliek in 'n oog en hy gebruik dit ook soms in sy eie kunswerke.
"Die kunswerk simboliseer bewussyn en persepsie wat dien as 'n herinnering aan motoriste en voetgangers om hul oë oop te hou vir die wêreld rondom hulle. Vir die leerders is dit om hul oë op hul toekoms te hou."
Beide is dit eens dat hierdie projek 'n besondere geleentheid vir die leerders was om kuns buite die klaskamer te beoefen en aan 'n projek deel te neem wat hul gemeenskap visueel verryk en waarop hulle kan trots wees.
Besoek gerus die KKNK se webtuiste om te sien watter visuele kunste deel vorm van vanjaar se fees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’