Op vanjaar se program is musiek vir elke klassieke smaak, deur internasionale en plaaslike kunstenaars en komponiste.
Die hoogtepunt van vanjaar se Klassique is die Mimi Coertse Galakonsert: Ons Gaan Groot (Saterdag, 15 Augustus) met Magdalene Minnaar (sopraan), Sipho Fubesi (tenoor), die vokale ensemble van die Kaapstad Operakoor onder leiding van Marvin Kernelle en die US Simfonie-Orkes onder leiding van Corvin Matei.
Suid-Afrika se voorste Steinway-kunstenaar, Charl du Plessis, verwerk die meesterlike musiek van Mozart in sy unieke styl en neem die gehoor met Eine Kleine Jazzmusik (Vrydag, 14 Augustus) op ’n opwindende jazz-reis.
Saam met Du Plessis op die verhoog is Magdalene Minnaar (sopraan), Musanete Sakupwanya (tenoor), Werner Spies (kontrabas), Hugo Radyn (tromme) en die Evolution of 4-strykkwartet.
Suid-Afrika in Refrein met die Suid-Kaap Kinderkoor onder leiding van Jan-Erik Swart en in samewerking met Jannie Moolman (tenoor) en Loveline Madumo (sopraan), sluit Klassique 2015 af met ’n unieke program van geliefde, inspirerende, eg Suid-Afrikaanse teks en komposisies, waaronder die hartroerende Magaliesbergse Aandlied.
Jan Hugo, bekroonde pianis en boorling van Bloemfontein, wat reeds sedert die ouderdom van 13 musiek in Italië studeer, deel Sondag, 16 Augustus sy passie vir romantiese musiek, met onder andere musiek van die gewilde Chopin in Romantiese Reise deur die 19de Eeu.
Musiek van twee kwartette kan gehoor word, met die Amici-strykkwartet van Kaapstad wat in Sielsnare ’n uitvoering van boeiende en uiteenlopende werke van onder meer Mozart, Hendrik Hofmeyr en Dvo?ák gaan lewer (Vrydag, 14 Augustus) en die Evolution of 4-strykkwartet van Pretoria wat met Vanaf Wene na die Karoo en Terug (Saterdag, 15 Augustus) die gehoor op ’n musikale reis na kontrasterende wêrelde neem met musiek van Beethoven, Van Wyk en Schubert.
In Romantiese Sonates (Saterdag, 15 Augustus) speel Anmari van der Westhuizen (tjello) en Ilse Schumann (klavier) meesleurende musiek van Chopin, Grieg en Kreisler. Van der Westhuizen en Schumann, wat albei op Stellenbosch grootgeword het, het in Wene vir die eerste keer saam opgetree en sedertdien ’n musikale aanvoeling vir mekaar ontwikkel.
Klassique open met die ATKV-Openingskonsert (Donderdag, 13 Augustus), ’n uitvoering deur die eerste buitelandse wenner van ’n ATKV-klassiekemusiekkompetisie, Polina Burdukova (tjello), saam met die onlangste wenners van die ATKV se kompetisies vir sangers en instrumentaliste, Johannes Slabbert (bariton) en Willem de Beer (klavier), in ’n aand van ligte klassieke werke uit bekende musiekspele én ietsie in Afrikaans.
Plaaslike pianis, Sulayman Human, is twee keer tydens die fees te sien. Hy en Visser Liebenberg (klarinet) lewer ’n program met musiek van Saint-Saëns tot Brahms (Vrydag, 14 Augustus), waarmee Human beoog om fondse in te samel om sy doktorsgraad in Amerika te voltooi.
Op Saterdag, 15 Augustus tree Human vir die eerste keer saam met sy klavieronderwyser, John Theodore in Kykie, dis Klassiek op. Hierdie uitvoering, waarin lede van ’n UCC-koor ook te sien sal wees, stel Oudtshoorn se klassieke musiektalent ten toon, in drie kort uitvoerings met ’n program van roerende kerkmusiek in ’n baie unieke omgewing.
Feesgangers kan hul musiek-ervaring aanvul met smul-etes by ’n verskeidenheid restaurante en koffiewinkels op die dorp en die omgewing se top wyne proe asook by die dorp se galerye inloer vir uitstallings deur die vele kunstenaars wat in die omgewing woon woon.
Die volledige program is beskikbaar by www.klassique.co.za en kaartjies is beskikbaar by Computicket en Shoprite/ Checkers.