Met hierdie woorde van Coenie de Villiers se bekende Karoonag het die Ad Astra koor van Hoërskool Oudtshoorn, die bekende tenoor Jannie Moolman, en talentvolle plaaslike sangeres Friedel Mitas, die gees van die twintigste Absa KKNK in die Van Zyl-saal van die Kango-grotte vasgevang. Die liedjie was deel van die programbekendstelling van vanjaar se Absa KKNK wat Woensdagaand in die grotte plaasgevind het.
Dit was ook die eerste keer in die geskeidenis van die fees dat dié bekendstelling op Oudtshoorn plaasvind. Rhodé Snyman, waarnemende uitvoerende hoof van die Absa KKNK, het Woensdagaand gesê: "Met 'n verskeidenheid bekende stemme, geharde stemme en nuwe stemme, klink die program van die twintigste kunstefees op Oudtshoorn, soos 'n koor in harmonie."
Twee stemkunstenaars, Marlo Minnaar en Martelize Kolver het die opwindende program van vanjaar se groot fees aan die gehoor voorgehou.
Die Absa KKNK spog vanjaar met 22 nuwe tekste en vyf nuwe vertalings/verwerkings van internasionale toneelstukke. In visuele kuns word drie feeskunstenaars (inplaas van die gebruiklike een) vereer. Onder die ongeveer 150 aanbiedings op die program is daar meer as 50 debuutproduksies.
Uit die aanbieding is dit duidelik dat hierdie jaar se kunstefees wat 20 jaar gelede deur 'n handjie vol innoverende Oudtshoorniete gestig is iets spesiaals gaan wees.
Woensdagaand se programbekendstelling is bygewoon deur borge van die Absa KKNK, rolspelers, sakemense van Oudtshoorn en verskeie lede van die plaaslike en nasionale media.
Die aand is afgesluit met 'n verrassingsoptrede van die gewilde en bekende Elvis Blue. Lede van die media en ander belangstellendes is gister ook getrakteer op 'n uitgebreide besigtigingstoer van verskeie besienswaardighede in Oudtshoorn en omgewing en is afgesluit met 'n besoek aan die plaas Oulap van die filmmaker, Jans Rautenbach.
Vanjaar se AbsaKKNK vind plaas vanaf 29 Maart tot 5 April en soos gewoonlik sal die Oudtshoorn Courant lesers op die hoogte hou van die opbou tot die fees en die fees self.

Deelnemers aan Woensdagaand se Absa KKNK-programbekendstelling, Foto's: Hans van der Veen.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'