Teen slegs R545 kan al agt musiekuitvoerings bygewoon word. Die pakket is by Computicket beskikbaar. Die Klein Karoo Klassique duur van 14 tot 17 Augustus en daar kan uitgesien word na opvoerings deur van die land se voorste musici en geleenthede om heerlike cuisine op die proef te stel.
Die ATKV openingskonsert op 14 Augustus, van 18:00 tot 19:10, beloof ligte klassieke musiek en musiek uit bekende musiekspele en Suid-Afrikaanse liedere. Die konsert word aangebied in die St Salvador Katedraal, op die hoek van Baron van Reede en St Saviourstraat. Kaartjies kos R85.
Nog twee opvoerings, Out of Africa en baroqueswing, word by dieselfde lokaal aangebied.
In Out of Africa, 15 Augustus van 11:00 tot 11:50, word twee werke deur eietydse komponiste "uit Afrika," Peter Klatzkow en Hendrik Hofmeyr, opgevoer. Toegang is R85.
Die internasionaal-bekende Charl du Plessis-trio, beklemtoon die ritmiese vitaliteit van gewilde Barok-komposisies in baroqueswing. Dié uitvoering, op 15 Augustus van 15:00 tot 16:10, beloof gesofistikeerde jazz-verwerkings van ondermeer Vivaldi se Vier Seisoene, en Bach se Orkessuite. Toegang is R100.
Anzél Gerber en Ben Schoeman vertolk Russiese meesterwerke, op 15 Augustus van 18:00 tot 19:30 in die Burgersentrum Ouditoriom.
Gerber, wat aan die Konservatorium by die Universiteit van Stellenbosch verbonde is, word deur kritici geprys vir haar buitengewone musikaliteit en tegniek en sy word toenemend as `n solo-kunstenaar op wêreldverhoë gehoor. Schoeman, wat tans met sy doktorale studies in Londen besig is, word beskryf as die beste Suid-Afrikaanse pianis van sy generasie. Kaartjies kos R100.
Noorderlik en reënbooglande, op 16 Augustus van 11:00 tot 12:05 in die St Salvator Katedraal, beloof `n uitsonderlike klankreis waartydens die gehoor onder die noorderlig met musiek van die Noorweegse komponis, Knut Nystedt tot onder die Suid-Afrikaanse reënboogruim sal reis. Kaartjies kos R85.
Om 15:00 tot 16:15 volg die Odeion strykkwartet in konsert in dieselfde venue. Die lede van die kwartet is almal verbonde aan die Odeion Skool vir musiek by die Unversiteit van die Vrystaat. Kaartjies kos R85.
Die Mimi Coertse Galakonsert op 16 Augustus van 18:00 tot 20:00 in die Burgersentrum Ouditorium, beloof om een van vanjaar se hoogtepunte te wees. Zanne Stapelberg (sopraan), Thomas Erlank (tenoor), Refiloe Olifant (viool) en die Simfonieorkes van die Universiteit van Stellenbosch sal onder leiding wees van maestro Corvin Matei. Toegang beloop R120.
Op 17 Augustus bied die Kaapstad Operakoor `n opvoering van koorgunstelinge by die NG Kerk Kangovalleie, van 11:00 tot 12:15. Kaartjies kos R85.
.jpg)
'n Foto wat by verlede jaar se Klein Karoo Klassique geneem is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'