Daar is verskeie weergawes van die volgende verhaaltjie op die internet. Hier is myne:
‘n Man lê baie ernstig siek in sy huis. Skielik ruik hy die heerlike geur van varsgebakte konfyttertjies. Sy gunsteling! Hy roep na iemand om vir hom ook te bring maar niemand hoor hom nie. Naderhand oorweldig die lus hom so dat hy moeisaam opstaan uit sy bed en al skuifelend na die kombuis beweeg. Hier sien hy die konfyttertjies in ‘n bak. Hy steek ‘n bewende hand uit om een te neem maar skielik kry hy ‘n raps op die hand en sy vrou sê: ‘Los die tertjies, dit is vir jou begrafnis!’
Party mense is heeltemal gekant teen die bediening van ‘toebroodjies’ (of enige verversings) op hulle begrafnis en verbied dit selfs so in hul testament.
Toebroodjies op begrafnisse het ‘n slegte naam gekry omdat sommige mense dit oordoen en as ‘n geleentheid gebruik om ‘uit te hang.’ Maar moet ons nou toelaat dat ‘n paar ‘vlieë’ in die salf die hele potjie bederf?
Die wyse Salomo het lank gelede gesê al het iemand baie lank gelewe maar hy het nie ‘n ordentlike begrafnis (sluit dit toebroodjies in?) nie, was hy nie ‘n baie suksesvolle mens nie. (Pred 6:3)
‘n Mens kan natuurlik baie duidelik sien of ‘n begrafnis toebie met liefde gemaak is of nie. ‘n ‘Opregte’ begrafnis toebie bestaan uit veel meer as net 2 snye brood wat vinnig op mekaar geplak is met botter en konfyt.
Die brood moet vars wees en die vulsel moet smaakvol wees. ‘Reënboog’ toebroodjies vertoon mooi en smaak lekker. ‘n Kouevleis of ham toebroodjie MOET mosterd op hê en fyn gesnyde slaaiblare.
Ek moet bieg: wat my ook langer by die teetafel laat verwyl as wat goed is vir my gesondheid is geroosterde hoender toebroodjies met mayonaize. En wat my ‘n begrafnis la-a-a-a-nk sal laat onthou, is ‘n toebroodjie met so baie fyn gerasperde biltong op dat dit uitval aan die kante van die toebie as jy hom hap…
Ander van my gunstelinge is kerrie sult en beestong toebies (met mosterd) of ‘n ‘Gatsby’ broodjie (dis nou ‘n broodrolletjie gevul met chips)
Dit maak dat ek sommer sal omstap na die Kerk se kombuis toe om die dames spesiaal te gaan bedank dat hulle ‘n andersins droewige dag bietjie kleur en geur gegee het…
Ek dink die meeste mense is baie dankbaar vir toebroodjies op ‘n begrafnis omdat dit die geleentheid skep om te ontlaai van al die spanning en hartseer van die dag se gebeure. Dis ‘n goeie ‘verskoning’ vir mense om na die begrafnis vir ‘n wyle te kuier en te gesels. So troos en beur ons mekaar op sonder dat ons dit eintlik besef…
Om te eet is deel van ons menslike bestaan en dit stuur vir ons ‘n boodskap na ons onderbewussyn dat die lewe aangaan ongeag ons geliefde wat nie meer daar is nie. Toebroodjies eet op ‘n begrafnis is dalk die eerste stap om aanvaarding (‘closure’) te kry van jou groot verlies. En as die dominee se preek nie te goed was nie dan is die toebroodjies darem hopelik goed!
Dit bied ook ‘n geleentheid vir ou vriende en familie om mekaar weer te sien en om vriendskapsbande te versterk. Want soos dit gaan in ons gejaagde lewe sien ons deesdae mekaar net op begrafnisse en troues...
Party mense doen ook baie moeite en gaan groot onkostes aan om ver te reis om die begrafnis by te woon. En dit voel nie reg om hulle net te laat gaan sonder ‘n innerlike versterking nie. Jesus het immers gesê: ‘Moenie die mense honger wegstuur nie. Gee julle vir hulle iets om te eet.’ (Mat 15:32, Mark 6:35ff)
Maar toebroodjies op ‘n begrafnis kan ook in jou ‘gesig ontplof!’ Ek onthou hoe ons eendag vir ‘n behoegtige familie ‘n ‘gratis’ begrafnis in ons gemeente gereël het. Omdat ons van die mense se omstandighede bewus was, het die susters ekstra moeite gedoen met allerhande heerlike verversings. Toe daag daar nie ‘n enkele familielid van die oorledene na die ter aardebestelling by die saal op nie!
En daar staan ons toe met ons verleë gesigte en borde vol lekkernye wat ons net so moes terugvat huistoe … Ek vemoed die ‘behoeftige’ familie het hulle eie private byeenkoms gereël wat heelwaarskynlik alkoholiese ‘verversings’ ingesluit het!
Ek hoop daar sal eendag toebroodjies op my begrafnis wees. Ek dink dit sal lekker wees om te weet my ou vriende staan nou en gesels lekker rondom ‘n koppie tee en ‘n toebie. Al praat hulle ook net oor die weer, rugby en die politiek…
Ek groet julle nou maar tot ons mekaar weer sien by die volgende begrafnis. En as dit my begrafnis is, vertrou ek die preek is goed en die toebroodjies is lekker…