OUDTSHOORN NUUS - Lluwellyn Coetzee, seun van die bekende inwoner op die dorp, Japie Coetzee, is Sondag in Kaapstad tydens Wes-Kaap-swem se algemene jaarvergadering as president van dié organisasie gekies.
Coetzee, wat 'n munisipale amptenaar (strategiese dienste) van beroep is, was die enigste genomineerde in die provinsie en is eenparig deur die raad verkies.
Hy het drie jaar gelede vir die eerste keer by SWD-swem aangesluit waar hy by die administratiewe kant van swem betrokke geraak het.
Hier was hy vir 'n tydperk adjunkpresident voordat hy in 2017 by Wes-Kaap-swem aangesluit het waar hy ook aanvanklik vir dieselfde posisie gekies is.
Vanaf 2019 het hy ook die posisie van interim-president van Wes-Kaap-swem beklee.
Volgens Coetzee voel hy besonder geërd om in dié topposisie verkies te word veral omdat hy relatief vinnig die spreekwoordelike leer geklim het.
"My hooftake sal wees om watersport (swem, waterpolo, gesinchroniseerde swem, duik en kransduik) te ontwikkel- veral onder voorheen benadeeldes.
"Waterveiligheid is 'n groot prioriteit en in die verband moet kinders by skole van kleins af aan water blootgestel word. Programme moet ook in plek gesit word sodat die kleintjies die korrekte swemopleiding ontvang om algehele veiligheid te bevorder," het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'