OUDTSHOORN TENNISNUUS - Die eersteliga mansspan van die Wesbank-tennisklub het die 2021 mansligatoernooi van die Eden-tennisvereniging Saterdag met 'n skitterende vertoning begin toe hy die gedugte George-tennisklubspan in 'n spannende wedstryd met 3-2 geklop het. Die uitslag was tot die laaste stel in die weegskaal.
Pietman Schoeman en Josh Daniel het die beslissende dubbelspel vir Wesbank gewen toe hulle daarin geslaag het om Charl Opperman en Wayne Till met 3-6, 6-4, 7-5 te klop.
Die twee spanne was na die enkelspelle gelyk.
Wesbank se kaptein Jacques de Beer het vir Corné Smit met 6-4, 5-7, 6-2 geklop terwyl Josh Daniel met 1-6, 1-6 teen Charl Opperman die onderspit gedelf het.
Die twee spanne het sake na die eerste twee dubbels weer gelykgemaak.
Daniel en Dirkie Potgieter het in drie stelle teen Willem Breytenbach en Wayne Till verloor nadat hulle die eerste stel maklik met 6-1 gewen en die tweede en derde met 3-6, 5-7 verloor het.
De Beer en Potgieter het egter met 6-2, 6-3 oor Smit en Breytenbach geseëvier. In 'n opwindende laaste dubbels het Schoeman en Daniel skitterend teruggeveg om die wedstryd aan Wesbank te besorg.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'