"Vyf en twintig jaar gelede het ons klompie, wat myself, Saag Jonker, Malan Jonck, Michael Joubert (oorlede), Basie Strydom, Johan van der Westhuizen, Wouter Myburgh, Martin Truter, Bokvet Serfontein, Ronnie Strydom, Johan Lategan, Danie Lategan en Anton Olivier ingesluit het, onsself elke Woensdagmiddag op die sosiale tennisbaan bemoedig en bemagtig," sê Nico du Bois, wat die reünie gereël het.
"Hierdie Woensdae het moontlik 'n rol gespeel om selfs hierdie sosiale tennis legen-des te slyp en vorm tot 'n gebalanseerde, kreatiewe en innoverende gemeenskapsleiers."
Du Bois glo sport hef op. Hy gebruik die voorbeeld van die Namibiese Sportraad wat in 1985 begin het om al 56 sportkodes in die land op te hef deur mense aan te moedig om aan sport deel te neem. Onderwysers is opgelei om die kinders op die sportveld leiding te gee, en die beste afrigters is aangestel om mee te werk om die doelwit te bereik.
"As jy iets van jouself weggee, soos kennis, entoesiasme en kreatiwiteit, verryk jy die ontvanger, en 'n hewige kettingreaksie van prestasie volg," sê hy. "As jy sport doen, hef jy jouself op. Sport hou die koppe jonk."
Die reünie wat op die tennisbaan begin het, is gemoedelik afgesluit met 'n vyfgang-maaltyd wat deur Elmarie Spies van Orchard Fine Foods van Schoemanshoek en volstruisvleiskok Morné Jonker voorberei is.
Die reünie is ook die aanloop tot 'n vyf-sport gebeurtenis wat op 19 September by die Kansa-veilingkrale op De Zeekoe buite die dorp plaasvind en wat 'n pretstap, pretdraf, bergfiets-prettrap, perde-uithourit en 'n pomptrollie-resies op die spoorlyn insluit. "Saddle Bag Events bied die geleentheid aan met die hoof doelwit om mense aan te moedig om aktief te bly."
Kontak Nico du Bois by 082 854 3883 vir meer inligting oor die sportgeleentheid in September.

Die groep tennispelers wat 25 jaar gelede kranig aan dié sport deelgeneem het, het Woensdag ‘n mini-reünie by die Wesbank-tennisbane op die dorp bygewoon. Foto: Tisha Steyn.
Lees meer in Vrydag se Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'