RUGBY NUUS - Al is jy nie 'n Stormers-ondersteuner nie, sal dit seker moeilik wees om môreaand, 2 September, van Outeniquapark af weg te bly.
Die Stormers, wat op die oomblik die toprugbyspan in Suid-Afrika is, nadat hulle in Junie die Verenigde Rugbykampioenskap gewen het, draf teen 'n SWD-uitnodigingspan uit.
Die wedstryd op Outeniquapark is 'n opwarmingswedstryd vir die Stormers in aanloop tot die nuwe seisoen waarin hulle die kroon gaan verdedig. Groot belangstelling heers vir die wedstryd wat om 19:00 begin.
Dat SWD gereed is vir dié wedstryd, is duidelik en die Stormers kan dalk gou agterkom dis nie 'n rustige Vrydagaand-kuiertjie op Outeniquapark nie.
Edwin Sass, kaptein van die SWD-span en 'n senter, het Dinsdag aan George Herald gesê dis 'n groot eer vir die span om teen die Stormers te speel na hul sukses in die VRK-kampioenskap.
Daar is energie in die SWD-span. Van die spelers het 'n paar weke gelede nog vir hul klubs gespeel en nou gaan hulle teen die Stormers uitdraf.
"Ons gaan nie net om deel te neem en nommers te wees nie. Ons wil graag 'n goeie wedstryd speel.
"Dinge sal dalk nie so goed wees soos mense verwag nie. Ons het net vier of vyf oefensessies saam gehad. Ons sal ons beste lewer."
Roscoe Syster, heelagter van die SWD-span, het gesê dis 'n groot eer om in die wedstryd te speel en ook 'n goeie geleentheid om te wys waartoe hulle in staat is. Ook hy het die versekering gegee dat die span sy beste sal lewer.
Ruben Cronje, 'n flank wat eers onlangs van die Shimlas by die SWD-span aangesluit het, het gesê van die Stormers se spelers is al drie tot vier jaar saam. Hulle ken mekaar. Die SWD-span het eers onlangs begin om saam te oefen.
Volgens hom gaan dit nie soseer oor die telling nie, maar oor die geleentheid. Hy dink dit gaan 'n goeie wedstryd wees.
Anton Moolman, die SWD-span se hoofafrigter, het gesê dis 'n massiewe geleentheid vir SWD se spelers. Hy het benadruk daar is egter geleent-hede vir beide spanne.
Uit 'n gemeenskapsoogpunt moet in gedagte gehou word dis nie elke dag dat die Stormers hierheen kom nie. Dit beteken ook baie vir rugby in die streek.
Kaartjies
Daar is nog kaartjies vir die wedstryd. Kaartjies kan vandag en môre by Outeniquapark gekoop word. Veda Manie, bestuurder van SWD-rugby, het gesê kaartjies sal môre van 13:00 beskikbaar wees. Die hekke open om 14:00 en die voorwedstryde begin om 14:30.
Die SWD-span is reg vir die wedstryd. Ruben Cronje (flank), Roscoe Syster (heelagter), Edwin Sass (kaptein en senter) en Anton Moolman (hoofafrigter). Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'