OUDTSHOORN NUUS - Dis die vier kragreuse in die SWD Superliga se Top 8-kompetisie, wat mekaar die komende Saterdag gaan aandurf in wat waarskynlik bestempel kan word as 'n proeflopie vir die halfeindstryde waarin hulle binnekort betrokke gaan wees.
Die moedswilliges mor klaar dat dié spanne klaar gekwalifiseer het vir die uitspeelrondes en met nie veel op die spel nie sal hulle seker die voet effens van die spoedpedaal afhaal.
Watwou. Vir elkeen van hulle is daar meer as net 'n wen op die spel. Daar is tog 'n trots vir jou klub en jou ondersteuners en 'n verloor Saterdag kan 'n lelike sielkundige knou wees. En geeneen van die vierstuks sal vir die uitspeelwedstryde wil opdaag met 'n mate van twyfel in die agterkop nie. As jou selfvertroue eers gekneus is, maak jy foute en foute kos jou belangrike wedstryde.
Vra maar die Springbokke wat verlede Saterdag die knie moes buig teen die All Blacks. Soveel elementêre foute op daardie vlak was verstommend.
Die twee kragmetings tussen Evergreens en Progress en Heidelberg en Bridgton gaan iets ysliks wees en om hier 'n voorspelling te waag gaan moeilik wees. Enigeen van die spanne kan as wenners van die veld afstap.
Evergreens, wat die afgelope Saterdag met 'n puik vertoning deur Barbarians met 39 - 26 geklop is, sal beslis nie oorgerus op die veld draf nie.
Hoewel daar op sosiale media bespiegel word dat Pacs se spogvyftiental dié wedstryd "gegooi" het, is dit nie só eenvoudig nie.
Barbarians het waarskynlik sy beste vertoning vanjaar in die Top 8-kompetisie gelewer en welverdiend gewen.
Evergreens, daarenteen, sal wil vergoed vir die "glipsie" met 'n kragvertoning waarin sy pak voorspelers sekerlik die pap dik gaan aanmaak.
Heidelberg, Progress en Bridgton en Barbarians het almal vyf punte uit hul wedstryde ingesamel.
Die arme Crusaders is met 92 - 21 deur Heidelberg afgeslag.
Bridgton het dit nie maklik gehad nie en Groot-Brak net-net met 39 - 38 geklop. Progress het sy kragmeting teen Blanco met 32 - 22 gewen.
Dit sal ook interessant wees om te sien of Barbarians nog 'n kragvertoning kan lewer teen Crusaders op hul tuisveld.
Só lyk die naweekprogram (tuisspan eerste genoem):
- Evergreens t Progress
- Heidelberg t Bridgton
- Groot-Brak t Blanco
- Barbarians t Crusaders
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’