OUDTSHOORN RUGBY NUUS - Vier van die land se voorste SuperSport-reeks rugbyspanne sal hierdie Sondag
20 Mei, duisende mense na die Bridgton-sportterrein lok, wanneer hulle op plaaslike bodem in die SuperSport Challenge sal kompeteer.
In die hoofwedstryd speel die SWD Arende om 15:00 teen die DHL Westelike Provinsie. Dié kragmeting sal om 13:00 met 'n kragmeting tussen die Vodacom Blou Bulle en Xerox Goue Leeus voorafgegaan word.
Die dag se rugbyfees word afgeskop met Oudtshoorn-rugbyklub wat Prins Albert se Willing Hearts om 10:30 aanvat.
Al drie die wedstryde word direk op SuperSport gebeeldsend en toegang is gratis.
Sondag se SuperSport Challenge is 'n opvolg op verlede jaar se suksesvolle DHL WP teen SWD Arende en vier SWD Premier-ligaspanne krag-metings wat ook op die Bridgton-sportterrein plaasgevind het. Ongeveer 18 000 toeskouers het die stadion en velde volgepak met dié uitdaagreeks.
Die SuperSport Challenge het ten doel om eersterangse rugby na die mense te neem.
Hennie Baartman het Dinsdag bevestig dat Francois Davids (adjunkpresident van SA Rugby), Graham Abrahams (SuperSport hoof- uitvoerende beampte), asook die voormalige Springbok en tans SuperSport kommentator, Ashwin Willemse, die dag se rugby sal bywoon.
Die rugbyfees word deur SARU, SWD Arende, Oudtshoorn-munisipaliteit en SuperSport aangebied.
In die hoofwedstryd sal die Arende oorgehaal wees om te vergoed vir die bloedneus wat die Boland hom verlede Saterdag gegee het, maar of hy oor genoeg skietgoed in sy arsenaal beskik om die WP te kelder, sal gesien moet word. Dit sal 'n groot poging verg om die Streeptruie, selfs hier op eie bodem, te troef.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'