OUDTSHOORN NUUS - Die Bridgton-sportterrein is bespreek vir een van sy grootste rugbyfeeste nóg op Oudtshoorn, wat op Sondag 20 Mei sal plaasvind.
Vier SA Rugbyunie (SARU) se topspanne, SWD Arende, Bulle, DHL Stormers en Goue Leeus sal van 13:00 vir groot vermaak sorg wanneer die Arende in die hoofwedstryd (15:00) teen die DHL Stormers te staan kom en die Bulle teen die Goue Leeus (13:00) speel.
In 'n voorwedstryd om 11:30 speel Oudtshoorn-rugbyklub teen Prins Albert se Willing Hearts. Al die wedstryde word direk op SuperSport gebeeldsend.
Die dag se rugby word deur SARU, SWD Arende, Oudtshoorn-munisipaliteit en SuperSport moontlik gemaak.
"Die spanne sal eers aanstaande week bekend gemaak word, maar ons verwag dat verskeie Springbokspelers in van die spanne opgeneem sal word. Hierdie is 'n geleentheid vir Oudtshoorniete en mense van omliggende dorpe om eersterangse rugby op eie bodem te aanskou," het Hennie Baartman, President van die SWD-rugbyunie Dinsdag gesê.
Baartman het die Oudtshoorn-munisipaliteit bedank omrede hulle ingekoop om die geleentheid op Oudtshoorn aan te bied.
Toegang vir al drie wedstryde is gratis.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'