Gallery
TUINROETE NUUS - Seuns van Mosselbaai, George, Oudtshoorn, Hessequa, Knysna en Kannaland het hierdie week in die eindronde van die SWD se Vuka-program vir o. 15-spelers gespeel.
Die spanne het mekaar Woensdag 27 Augustus op Van Riebeeck-stadion die stryd aangesê - drie wedstryde is gespeel.
Oudtshoorn het vir Kannaland met 35 - 10 gewen, George het Mosselbaai met 30 - 10 die knie laat buig en Hessequa en Knysna se wedstryd het met 15 elk gelykop geëindig.
Martin-John de Vos, SWD se hoof van rugbysake, sê daar neem elke jaar ses streke aan die Vuka-program deel. Elke streek hou hul proewe afsonderlik om hul beste span saam te stel.
Die program word ook gebruik as ’n platform om die SWD o. 15-rugbyspan te kies wat die unie elke jaar by die nasionale Hollywood Foundation Iqhawe-rugbyweek verteenwoordig.
Daar word ook sedert 2023 ’n o. 15 Vuka XV gekies.
Woensdag se geleentheid is gebruik om dié twee spanne te kies. De Vos sê daar is nog prosesse om te volg voor die spanne amptelik is, maar hulle behoort volgende week bekendgemaak te word.
Vanjaar se Iqhawe-week vind van 5 tot 9 Oktober in Oudtshoorn plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’