Video
RUGBY NUUS EN VIDEO'S - 'n Vertoonvenster van die rugbygehalte in die SWD was Dinsdagaand, 20 Junie, te sien toe toekennings aan verskeie spelers van die SWD Arende gemaak is.
Twee spelers wat toekennings ontvang het en veral aandag getrek het is Adriaan van der Bank en Rosco Syster.
Van der Bank is as speler van die jaar, aangewys. Hy was die afgelope seisoen een van die span se sleutelspelers. Benewens speler van die jaar, het hy ook die toekenning as die voorste puntemaker ontvang. Hy speel losskakel en het 106 punte die seisoen aangeteken.
Syster, 'n vleuel, het drie toekennings ontvang. Driedrukker van die jaar, agterspeler van die jaar en ook die spelers se speler van die jaar. Hy het 13 keer agter die doellyn vir die Arende gaan kuier.
Van der Bank het voor sy koms na die Arende gewys waartoe hy in staat is. Hy was van 2019 tot 2022 lid van die Maties se span wat in die Varsity Cup gespeel het. Die span het in 2019 die beker gewen en in 2022 was hy kaptein.
Ongelukkig is hy verlore vir die Arende. Hy vertrek binnekort na Frankryk en die plan is dat hy van Saterdag (1 Julie) inval by die klub Stade Dijonnais in Dijon.
Van der Bank het Maandag gesê hy het nie die toekenning as speler van die jaar verwag nie. Dis moeilik om te sê wat die toekoms inhou. "My fokus is nou by die nuwe klub."
Syster het Dinsdag gesê die toekennings was 'n groot verrassing. Hy geniet nog die rugby. Hy kom van Pacaltsdorp en vir eers gaan hy in die gebied bly.
Hy is weer beskikbaar vir die Arende vir die volgende seisoen. "Alles sal egter afhang of die afrigters my weer wil gebruik."
Rosco Syster het drie toekennings ontvang. Foto's: Eugene Gunning
Hy sal graag wil deel wees van die Arende-span as hulle later kan kwalifiseer vir die Curriebeker premierliga. "Dit sal vir my 'n eer wees."
Die aansien wat Van der Bank in SWD-rugby geniet is bewys toe Ben Brinkhuis, president van die unie tydens die geleentheid gesê het as hy ooit weer wil terugkeer moet hy hom sommer direk bel.
Brinkhuis het almal bedank wat betrokke was by die sukses van die Arende. Daar was sweet en trane.
Veda Manie, bestuurder van die unie, het gesê die seisoen het gewys wat 'n span moet wees.
Sy salueer elke speler en die spelers het gewys hulle is die titel werd van Arende.
Janneman Stander, kaptein van die Arende, het gesê die spelers het soos klomp broers en familie geword.
VIDEO: Coach Anton by toekenningsaand
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende:
Moolman het gesê die spelers se kontrakte strek tot einde Junie. In die volgende paar weke sal gekyk word na die span se swak en sterk punte die afgelope seisoen. Hy is tevrede waar die span op die oomblik staan.
Die plan is om dieselfde patroon as verlede seisoen te volg en spelers kontrakte van 1 November te gee.
Die Arende speel op 6 Oktober 'n vriendskaplike wedstryd teen die Stormers. In die aanloop daartoe sal 'n span saamgestel word.
Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid van die George-stadsraad:
"Die George-munisipaliteit is ongelooflik trots op SWD Arende. Om Outeniquapark weer vol te sien is 'n strategiese doel van George. Die impak van sport is iets wat homself oor en oor in die land bewys het. "Vir die afrigters, bestuur en spelers, baie dankie vir alles wat jul insit, en weet George-munisipaliteit is saam met julle op die pad na Currie Cup 2025."
VIDEO: Speler van die jaar
VIDEO: Kaptein gee sy indrukke
VIDEO: President praat
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’