OUDTSHOORN NUUS - Spring Roses het sy onoorwonne status in die SWD-Presidentsliga behou deur All Blacks in 'n spannende wedstryd met 17-15 te klop. Die rustydtelling was 12-8 in All Blacks se guns.
Die derby is Saterdag 31 Maart op die Bridgton-sportterrein gespeel.
All Blacks het eerste bloed geruik met 'n pragdrie. Daarna het Domenic Smit vir Roses 'n onverdoelde drie gaan druk nadat hy die hele All Black-span met vernuftige systappe aan die slaap gevang het. Smit het later met 'n strafskop geslaag om Roses te laat voorloop.
All Blacks het egter voor rustyd die laaste sê gehad en 'n verdoelde drie gedruk om met rustyd voor te loop.
All Blacks kon net drie punte in die tweede by hul totaal voeg, terwyl Smit met drie strafskoppe vir Roses in die tweede helfte geslaag het.
Die voorsitter van Spring Roses, Hein Coetzee, sê: "Roses was 'n skadu van die span wat verlede naweek met Oudtshoorn afgereken het en was gelukkig om te wen. Hanteerfoute op kritieke stadiums van die wedstryd het amper hulle ondergang beteken. Die span was soms ook platvoet en dit het gelyk asof hulle nog steeds in hul winterslaap was."
Vir Roses het Morné Basie, Heinrich Erasmus en Petrus Van Vuuren voorlangs uitgeblink. Agterlangs het Smit en Sedrick Esau uitgeblink.
Smit met 'n drie en vier strafskoppe, al Roses se punte aangeteken,
Roses se tweede span het hul eweknieë van All Blacks met 15-7 verslaan. Hul volgende wedstryd is 14 April teen Willing Hearts van Prins Albert.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'