OUDTSHOORN RUGBY-NUUS - Spring Roses B het met ‘n uitmuntende vertoning deurgedring tot die halfeindstryd van die Presidentsliga nadat hulle Seagulls van Stilbaai met 26-22 geklop het. Spring Roses was rustyd reeds met 19-3 voor nadat hulle Seagulls flenters gehardloop het.
Die span speel nou teen Eagle Stars van Sedgefield in die halfeindstryd wat in Albertinia gespeel word.
Die groot uitblinker in Roses se span was die regtervleuel, Suttner Abrahams wat ‘n driekuns behaal het. Abrahams het met sy vaartversnelling telkens sy hakskene vir Seagulls se verdedigers gewys. Die wedstryd wat op die Bridgton-sportterrein gespeel was, het heelwat drama in die tweede helfte gehad.
‘n Strafdrie is teen Roses aangeteken wat hulle amper die wedstryd gekos het. Die span het egter die druk pragtig verwerk en kon Seagulls met desperate verdediging van hulle doellyn af weg hou.
Uitblinkers vir Roses onder die voorspelers was, Steven Simmers en Pieter Jansen. Agterlangs was Attie Goliath, Piet Veldsman, Freddie Coetzee, Henslow Janse en Abrahams onder die uitblinkers.
Vir Roses het Abrahams drie drieë en Jansen een drie gedruk. Veldsman het met drie doelskoppe geslaag.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'