SUID-KAAP NUUS - Albertinia Rangers het Saterdagmiddag, 12 Augustus in Albertinia teen die Harlequin-rugbyklub van Oudtshoorn te staan gekom en die wedstryd naelskraap met 26-25 gewen. Die stadion was volgepak en die skare het elke oomblik van die wedstryd geniet. Die rustydtelling was 12-8 in die guns van die tuisspan.
Soos in enige kwarteindstryd, het die gemoedere hoog geloop onder die spelers aan beide kante.
Rangers het gewys hoe gevaarlik hulle met die bal kan wees en twee drieë gaan druk in die eerste helfte.
Jerome Esau, heelagter van die Rangers, het deurgaans die verdediging van Harlequins aan die raai gehad en sy briljante spel is beloon met 'n pragtige drie. Die span, afgerig deur Abri Nomdo en Abel Saayman, het vier drieë gedruk teen die gedugte span Oudtshoorn.
Vir Albertinia Rangers lê nog harde werk voor, veral by die skrum en die lynstane. Jerome Esau, Alwin Swanepoel. Jonathan Mathiso en sy broer Conray Mathiso het almal drieë gedruk. Drie van die drieë is verdoel deur die skrumskakel, Keanan Tarentaal.
B-span
Die B-span van Rangers het hulle kwarteindstryd teen Springroses gespeel en hulle gemaklik met 35-22 geklop. Die losvoorspelers Christo Jantjies, Danville Matthee en Quinton September was weer voortreflik met die bal. Die senter, Envor Erasmus, het gou die wind uit die besoekers se seile gehaal met 'n onderskepdrie onder die pale.
Rangers se A-span sal vervolgens in die semi-finaal kragte meet.
Rangers het ses drieë gedruk in hul kragmeting. Werner Manho, Christo Jantjies, Denvor Erasmus, Bronwyn Vaaltyn, Quinton September en Elroy Buis het drieë aangeteken. Skopwerk is waargeneem deur Elroy Buis en Adri Buis.
'Ons bring jou die nuutste Suid-Kaap nuus'