OUDTSHOORN NUUS - Na vyf wedstryde vanjaar is Oudtshoorn-rugbyklub steeds onoorwonne in die SWD Eerste Liga B Oos na hul oorwinning van 34 - 33 teen Calitzdorp-rugbyklub. Hierdie wedstryd is verlede Vrydagaand op die Oudtshoorn-sportterrein gespeel, en soos die telling aandui, moes die volstruise diep delf om die wa deur die drif te trek.
Na hierdie oorwinning is Oudtshoorn nou bo-aan die punteleer met 23 punte. Zoar is in die tweede plek met 18 punte gevolg deur Calitzdorp wat in die derde plek is met 17 punte.
Puntemakers
Ruhan Els, Marthinus Hendricks, Delaud Baartman en Jean Rossouw het elke een drie gedruk. Die skeidsregter het ook 'n strafdrie toegeken.
Baartman was in die kol met twee doelskoppe en een strafskop.
Oudtshoorn se B-span was ook aan die wenkant met 13-6. Die drieë is deur Uttrecht Olkers en Franklin Meiring gedruk. Rowan Rondganger het 'n strafskop oorgeklits.
Oudtshoorn se volgende wedstryd is Saterdag 18 Mei teen die departement van korrektiewe dienste se rugbyspan by die gevangenisdiens se sportterrein.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’