OUDTSHOORN SPORTNUUS- Oudtshoorn-rugbyklub het verlede Saterdagaand hul spelers tydens 'n spoggerige geleentheid by Route 62 Restaurant (voorheen Brain's Grill) vereer.
Die klub het vanjaar in die derde plek op die algehele punteleer van die SWD Eersteliga Oos-wedstryd geëindig.
Die klub se ondervoorsitter, Werner Heunis, het gesê dat sy spelers se doelwit is om tydens volgende jaar se liga met die louere weg te stap.
"Ons het vanjaar gewys dat ons definitief oor genoeg diepte beskik om enige span in die toernooi te wen. Daar moet ook in ag geneem word dat ons die enigste span was wat die uiteindelike wenner, Harlequins, in die toernooi kon klop - dit sê baie van ons spelers se vermoëns," het Heunis beklemtoon.
Topprestasies van spelers wat Saterdagaand vereer is:
- Jaco Marx - Leierskap en meeste drieë vir A-span-voorspeler.
- Trompie Olkers - Beste B-span-voorspeler van die jaar en mees betrokke speler.
- Elrich van Wyk - B-span-agterspeler van die jaar.
- Keith Marx - A-span-agterspeler van die jaar en eerste drieë vir A-span-agterspeler.
- Reinardt Bergh - Sportman van die jaar.
- Ruhan Els - Speler van die jaar en die spelers se speler van die jaar.
- Marshalino Booysen - Mees bestendigste speler van die jaar.
- Maria Maartens - Ondersteuner van die jaar.
- Demitri Arendse - Seniorspeler van die jaar.
- Jan Pretorius - Juniorspeler van die jaar en A-span-voorspeler van die jaar.
Spelers wat graag by die klub wil aansluit kan Heunis by 064 685 4677 kontak. Heunis het ook bevestig dat die klub se voorseisoen reeds 1 Desember begin.
Reinardt Bergh (middel) was vanjaar as Oudtshoorn-rugbyklub se Sportman van die Jaar aangewys. Links is Andre Venter (A-span-agfrigter en regs is Werner Heunis (ondervoorsitter van die Oudtshoorn-rugbyklub).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'