En toe die eerstespanne van Oudtshoorn en Harlequins op die veld draf het die donderweer ook swaar in die lug gehang. Van onkantlyne was min sprake. `n Speler is selfs toegelaat om `n merk van `n afskop te vang.
Tot die skeidsregter se krediet het hy sy blapse verdoesel deur skril op die fluitjie te blaas en strafskoppe links- en regs uit te deel. Tot die spelers se krediet kon rugby gespeel word sonder dat humeure opvlam. `n Paar van die Oudtshoorn-strydosse het weer trui oor die kop getrek. En waar fiksheid dalk nog vroeg in die seisoen kortkom het ervaring duidelik deurgeskyn.
Die manne van Harlequins het oorgenoeg durf gewys en het goed opgeweeg teen `n swaarder pak
voorspelers wat veral in die eerste helfte wou begin stoomroller. Wanneer die besoekers se agterspelers ruimte gegun is, het hulle ook die verdediging oorhoops gehad. Twee goeie drieë is van vinnige omgekeerde besit gedruk en in die laaste kwart het die weermagmanne die tuisspan se doellyn gereeld bedreig.
Oudtshoorn se eerstespan het gewen met `n telling van 24-20. Die halftydtelling was 19-3 in Oudtshoorn se guns. Hul tweedespan het met 10-3 gewen en die derdespan het teen `n Kollege-span met 3-3 gelykop gespeel. Oudtshoorn se volgende ligawedstryd is op Saterdag 21 April weg teen Willowmore. Harlequins speel op dieselfde dag tuis teen Beaufort-Wes.
- Silver Stars van George kon nie hul ligaverpligting teen All Blacks nakom nie. Daar was klaarblyklik woelinge in bestuurs-geledere en die volle ligapunte word aan die tuisspan afgestaan.
- In die Premierliga het Bridgton se eerstespan hul wegwedstryd teen Progress met 24 - 17 verloor.