RUGBYNUUS - Oudtshoorn-rugbyklub se A en B-spanne was verlede Saterdag in 'n SWD Superliga B Oos-wegwedstryd aan die wenkant teen Superstars van Hoekwil.
Vir Oudtshoorn se A-span was hul losskakel, Ronals Wetering, se spel weereens kookwater met een drie tesame met een doelskop en drie strafskoppe wat hy aangeteken het om sy span met 16 - 14 te laat seëvier.
Hul tweede span was met 24 - 22 baas in hul wedstryd. In hierdie wedstryd het Thomas Jordan twee drieë gedruk, terwyl Armand du Toit en Leandrè Beneke elk een keer agter die pale gaan kuier het.
Die heelagter Elrich van Wyk was suksesvol met twee doelskoppe.
Oudtshoorn se volgende wedstryd is eerskomende Saterdag teen Uniondale by die Oudtshoorn-sportterrein. Uniondale gee tans die pas aan op dié liga se punteleer.
Bridgton teen Crusaders
Bridgton-rugbyklub se A-span het verlede naweek in George teen Crusaders met 31 - 48 vasgeval. Die wedstryd het aanskoulike hardlooprugby opgedis wat 13 drieë opgelewer het. Ongeag hierdie nederlaag kon die besoekers daarin slaag om 'n bonuspunt in te samel vir die feit dat hulle vyf drieë gedruk het.
Vir Bridgton het Aiden Pretorius (flank), Tyrese Pietersen (vleuel), en Craig Ellis elk 'n drie gedruk. Hul opwindende skrumskakel, Willem Jaftha, het twee drieë gedruk. Jayden Moos was suksesvol met drie doelskoppe.
Bridgton se volgende wedstryd is eerskomende naweek teen Blanco van George by die Bridgton-sportterrein.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’