OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Bridgton-rugbyklub het onlangs 'n nuwe bestuur by hul jaarlikse algemene jaarvergadering gekies. Hierdie bestuur sal vir die volgende twee seisoene (2020/21) aan die stuur van sake wees.
Volgens die nuutverkose voorsitter van die klub, Ian Laubscher, verbind die klub se bestuur hulle daar toe om die klub se algemene beeld weer tot sy eertydse glorie te herstel. Laubscher gee toe dat 2019 beslis nie 'n goeie jaar vir Bridgton-rugbyklub op- en van die veld was nie.
"Ons kan egter die ondersteuners en die publiek die versekering gee dat die nuwe bestuur druk besig is om strukture in plek te kry om ongewenste kaskenades wat in die verlede 'n negatiewe invloed op die klub se werksaamhede gehad het, hok te slaan," het hy gesê.
Die bestuur is tans besig om die aanstelling van 'n hoofafrigter te finaliseer en 'n aankondiging in die verband kan in dié komende week verwag word. Sodra die hoof-afrigter aangestel is, sal hy aan die spelers bekend gestel word waarna die voorseisoen-oefeninge in alle erns sal begin.
Bridgton-rugbyklub het hierdie seisoen agste op die algehele SWD Mic Fin Premierliga punteleer geëindig. Die klub se doelwit is om in 2020 minstens een van die top vyf spanne in dié liga te wees. Die A-span koester ook aspirasies om in 2021 en 2022 in die uitkloprondtes te speel.
Die nuwe bestuur het ook 'n beroep op die gemeenskap gedoen om in hul getalle by die klub aan te sluit in hierdie opwindende herbouproses.
Volgens Laubscher is daar groot planne in die pyplyn om volgende jaar aktief betrokke te raak in die gemeenskap op sosiale- en maatskaplike gebied. Meer inligting hieroor sal later bekend gemaak word.
Seisoenkaartjies vir tuiswedstryde sal ook volgende jaar beskikbaar gestel word. Pensioenarisse sal gratis toegang kry by tuiswedstryde.
Die klub bied op Saterdag (môre) 'n hoenderbraai by die Bridgton-sportterrein aan as deel van hul fondsinsameling. Alle lede van die gemeenskap word genooi om die inisiatief te ondersteun. Bridgton-rugbyklub wens al sy spelers, lede, en die gemeenskap van Oudtshoorn 'n geseënde Feesseisoen toe.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'