RUGBYNUUS - Meer as 'n 1 000 o. 14- en o. 15-rugby-spelers van 33 skole, het tydens die 28ste Kwagga Junior Rugbyweek, wat by Hoërskool Outeniqua plaasgevind het, gewys die rugbytoekoms van Suid-Afrika lyk goed.
Hulle was deel van 60 spanne wat aan die geleentheid deelgeneem het wat Donderdag 21 Maart begin het en Maandag 25 Maart klaargemaak het.
Daar is oor drie dae rugby gespeel en spelers vanoor die land wat Kaapstad, Pretoria, Johannesburg, Stellenbosch, Oos-Londen, Secunda, Upington en Kimberley insluit, het deelgeneem.
Byna 90 wedstryde is oor die drie dae gespeel en toeskouers is getrakteer op opwindende rugby.
Toe die geleentheid Donderdag begin het, was daar al vroegoggend bedrywigheid by die skool soos die onderskeie spanne opgedaag het vir die wedstryde. Benewens die spelers was daar ook afrigters, beamptes en ouers.
Dit was al vroeg warm en sommige van die toeskouers het lafenis in die koelte gesoek. Hannes en Karen Bester van Stellenberg het al die pad van die Kaap deurgery om hul seun Lauwrens Bester te ondersteun. Hulle het reeds vroeg onder 'n sambreel teen die warm son geskuil.
Besoekers is herinner aan die trotse rugbygeskiedenis van die skool. By die tonnel onder die hoofpawiljoen was reuseplakkate van Duhan van der Merwe en Manie Libbok, wat al naam gemaak het op internasionale rugbyvelde. Beide is oudleerlinge van die skool.
Saterdag is daar weer sprankel-rugby gespeel, maar moes toeskouers sambrele nadertrek vir ander redes as Donderdag. Dit het by tye liggies gereën en mense het skuiling onder sambrele gesoek. Die weer het egter nie die geesdrif gedemp nie.
Hanru Clack (8) van Bloemfontein was een van die wat onder 'n sambreel geskuil het. Hy het saam met sy ouers, Noel en René, sy boetie Tian ondersteun wat agsteman speel vir Hoërskool Sentraal se o. 15-span. Noel en René was baie beïndruk met George.
Thabo Sakoane van Bloemfontein het ook na die wedstryde gekyk. Hy was 'n busbestuurder van die spanne van Hoërskool Sentraal. Dit was sy eerste besoek aan George en het dit baie geniet.
Etienne Havenga, afrigter van die o. 15-span van Hoërskool Duineveld van Upington, was ook langs die velde.
Deelnemers van die skool het 'n ver pad na die geleentheid gery. Dit was die eerste keer dat die skool aan die geleentheid deelgeneem het.
Volgens hom is dit altyd aangenaam in George. "Die mense is vriendelik en gasvry." Daar waar hulle vandaan kom is dit warm en droog. Soms kry hulle wel 'n bietjie reën. Die ligte reën van Saterdag, het hulle nie gepla nie.
Hoërskool Transvalia en Parel Vallei Hoërskool se o. 14-spanne meet Saterdag kragte teen mekaar.
Piet Cloete, hooforganiseerder van die toernooi, het gesê vanjaar se toernooi was 'n groot sukses. Hy was al 22 keer betrokke en dit het oor die jare baie gegroei.
Toe dit die eerste keer aangebied is, was daar net 10 spanne. Nou is daar 60 spanne.
Die toernooi het al meer as 30 toekom-stige Springbokke opgelewer waaronder Libbok, Warrick Gelant, Akker van der Merwe, Faf de Klerk en Handre Pollard.
Hy het benadruk dat dit 'n rugbyfees in die Suid-Kaap is en dien ook as voorbereiding vir die seisoen.
Volgens hom was die standaard by die toernooi goed. Daar moet in gedagte gehou word dat van die topskole deelgeneem het. "Die gehalte van die spel was goed en die toekoms van rugby lyk goed."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’