OUDTSHOORN NUUS - Die derde been van die eeufeesvieringe van die Western Hope-krieketklub is verlede Saterdag, 28 Februarie, met 'n spesiale rugbydag op die Bridgton-sportterrein ter ere van die legendariese sportman Desmond Malgas, gevier.
Malgas het hom oor die jare heen onderskei in rugby, krieket en gholf, en die dag is aangebied as huldeblyk aan sy bydrae tot sport in die gemeenskap. Rugbyspanne het tydens die geleentheid om die eerste Desmond Malgas-legendebeker meegeding.
Die rugbydag het gevolg op die Antoon Coerecius-rugbydag wat op 24 Januarie plaasgevind het, asook 'n dankseggingsdiens op 25 Januarie, albei deel van die klub se eeufeesvieringe.
Lede van die Malgas-familie was teenwoordig en is deur die voorsitter van Western Hope, Phillip Goliath, verwelkom. Onder die gaste was ook Kearny Malgas, jonger broer van Desmond Malgas, wat saam met hom vir Perseverance-rugbyklub en die destydse Proteas gespeel het.
Tydens 'n verwelkomingsfunksie in die pawiljoen se saal het Pietie Mooney, bestuurslid van Western Hope, verskeie staaltjies oor Malgas gedeel. Hy het onder meer vertel van 'n wedstryd waarin Kearny, toe 'n vleuel, naby die doellyn vasgesteek het. Sy ouer broer het glo vir hom gesê: "'n Vleuel steek nie vas nie, gaan speel flank."
Dit was later die posisie waarin Kearny uitgeblink en uiteindelik Proteakleure verwerf het.
Helene Malgas, weduwee van wyle Desmond Malgas, het die klub bedank vir die eerbewys aan haar man en Western Hope sterkte toegewens met hul voortgesette werksaamhede.
Op die veld was dit Harlequins se A-span wat geskiedenis gemaak het deur as die eerste wenners van die Desmond Malgas-legendebeker aangewys te word nadat hulle Oudtshoorn se A-span in die hoofwedstryd met 17 - 15 geklop het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’