OUDTSHOORN NUUS - In 'n skitterende derby in die SWD-rugby se Presidentsliga het Harlequins vir Collegians met 23-21 gewen. Rustyd het Harlequins 15-6 voorgeloop.
Die wedstryd het teen 'n vinnige pas begin en die spelers aan albei kante het mekaar behoor-lik vasgevat. Geen genade is gevra of getoon nie. Die voorspelers het verwoed ingeklim en die agterspelers het die bal van hand tot hand beweeg. Hegte verdediging aan albei kante het verhoed dat drieë vroeg aangeteken kon word.
Harlequins het eerste punte aangeteken, toe hul losskakel, Keenan Esau, geslaag het met 'n strafskop, na ontkantspel deur Collegians. Kort na die inskop word Harlequins gestraf vir ongeoorloofde spel en die skrumskakel van Collegians, Ronaldo Botha, slaag met die strafskop om die telling 3 elk te maak.
Die spelers het behoorlik onder mekaar ingeklim, maar deurkom kans was min. Harlequins het nog verder voorgeloop na onkantspel deur Collegians en Esau slag met nog twee maklike strafskoppe en Botha met een vir Collegians, wat die telling op 9-6 te staan gebring het, in Harlequins se guns.
Teen die verwagtinge het die een vleuel van Harlequins oorgeduik vir 'n drie, wat verdoel is deur Esau. Die telling het toe op 15-6 gestaan in Harlequins se guns. Dit was ook die rustydtelling.
Na rustyd het Collegians met meer vuur begin speel. Aanval op aanval is op die doellyn van Harlequins geloods. Dit was ook nie lank nie of hul skrumskakel, Botha, bars deur vir 'n drie. Hy verdoel dit ook om die telling op 15-13 te staan te bring in Harlequins se guns.
Collegians se ondersteuners was staande, want hulle kon sien dinge was aan die gebeur. Na 'n vinnige ingooi deur Bertran Hendricks, senter van Collegians, bars die heelagter, Roegelin Campher, deur en gaan druk in die hoekie vir 'n onverdoelde drie. Die telling was nou 18-15 in Collegians se guns. Harlequins het alles in hul vermoë gedoen om punte aan te teken, maar die verdediging van Collegians het gehou.
Diep in die tweede helfte kry Collegians nog 'n strafskop na onkantspel deur Harlequins. Die plaasvervanger losskakel van Collegians, Ro-berto Botha, slaag met die strafskop van binne die halfgebied van Harlequins om die telling
21-15 te maak in Collegians se guns. Die spel het warm begin raak, maar die verdediging het gehou.
Harlequins aan die dryf.
Harlequins was op die aanval en na 'n fout deur die losskakel van Collegians, Roberto Botha, val die een flank van Harlequins oor vir 'n onverdoelde drie, om die telling op 21-20 te staan bring in Collegians se guns.
Collegians kon nog verder voorgeloop het as Botha geslaag het met die maklikste strafskop van die dag. Kort voor die einde kry Harlequins 'n strafskop na onkantspel deur Collegians en Esau skop dit deur die pale om die telling op
23-21 te staan bring. Dit was ook die eindtelling.
Collegians hoef nie sleg te voel oor die verloor nie, want hulle was die beter span op die veld. Volgens hul afrigter, Seppie Ekstraal, het die spelers hul beste gegee en gewys waartoe hulle in staat is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'