RUGBYNUUS - Harlequins-rugbyklub se A-span het verlede Saterdag sy plek bespreek in die halfeindstryd van die SWD Super B-liga toe hy Prins Albert in 'n wegwedstryd oortuigend met 39 - 5 geklop het.
Hierdie wedstryd was oënskynlik teen rustyd alreeds in die sakkie met die tuisspan wat 0 - 32 agtergeloop het.
In die tweede helfte was daar bitter min geleenthede om punte aan te teken met beide spanne wat elk slegs een drie kon aanteken- in skrille kontras met die eerste helfte se drieëfees.
Vir Harlequins het die spoedvraat Glenwill Lewis twee keer agter die doellyn gekuier terwyl die vlugvoetige Gerthwin Jonathan 'n driekuns van drieë behaal het. Keenan Esau (losskakel) was suksesvol met drie doelskoppe en een strafskop. Esau en die slot, Jayson Ryan, het ook elk een drie gedruk.
Harlequins sal nou te staan kom teen Eagle Stars in die halfeindstryd.
All Blacks het op sy beurt ook onder die topvier-rugyspanne op die algehele punteleer geëindig met konstante voortreflike spel en sal in die halfeindstryd vir Seagulls aanpak.
Beide datums vir hierdie wedstryde moet nog aangekondig word.
Die wenner van die Super B-liga sal bevorder word na die gesogte SWD Premierliga.
Die seëvierende Harlequins-rugbyspan. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’