OUDTSHOORN NUUS - Langenhoven Gimnasium se o. 19A-rugbyspan het verlede Saterdag op hul tuisveld korte mette gemaak met Hoërskool Oudtshoorn (Struisies) in 'n aksiebelaaide FNB Classic Clashes- derbywedstryd.
Die eindtelling van 31 - 20 vlei effens die besoekers omdat die resultaat nooit in twyfel was nie.
Albei spanne het die wedstryd met 'n geweldige pas begin met plettervatte en verbete verdediging wat aan die orde van die dag was.
Vir sowat 20 minute lank sou mens sweer dat hierdie kragmeting in 'n lae-telling affêre sou eindig met geeneen van die spanne wat 'n duit vir mekaar teruggestaan het nie.
Gimmies het eerste bloed geruik toe hul losskakel Cade Ayford, die wedstryd se eerste drie gedruk het na 'n skitterende teenval. Die doelskop was mis en kort daarna het Struisies se Sydney Lourens 'n strafskop oorgeklits wat die telling op 5 - 3 te staan gebring het.
Oud en jonk het in groot getalle opgedaag om die laaste wedstryd van die dag te kyk.
Net voor rustyd was dit Gimmies se skrumskakel, Jayden Arends, wat oor is vir 'n onverdoelde drie nadat die manne in blou kampie opgeslaan het in Struisies se helfte.
Dit was toe reeds duidelik dat Gimmies se blitsige agterspelers verantwoordelik sou wees vir 'n lang dag op 'n kantoor - klokslag as daar oop spasie vir hulle was om in te gedy. Rustydtelling was 10 - 3.
Daar is geen genade gevra of gegee nie.
In die tweede helfte het Gimmies gedreig om met die wedstryd weg te hol met twee vinnige verdoelde drieë via Micheal Smit en Evan Delport wat onder die pale gedruk het om hul voorsprong na 24 - 3 te rek.
Even Delport trek sy ore plat doellyn toe.
Die tuisskare was in vervoering met hul skool se puik spel met oorwinnigskrete wat om die beurt deur die hele buurt weergalm het.
Struisies het egter geweier om te gaan lê en het met 'n laat aanslag soos min vorendag gekom om hul telling bietjie meer vleis aan die been te gee met drie drieë wat deur Waylinn MacDillon, Neavon Jackson en Ronaldo Prins gedruk is.
Gimmies het egter die laaste lag gehad toe Tamrin Pietersen met 'n slim steekskoppie binne Struisies se kwartgebied gaan druk het wat hy self uit die lug opgeraap het.
Pietersen se briljante opportunistiese drie was by verre die beste individuele spel van die dag.
So het die res van die rugbyspanne gevaar:
Gimmies o. 19-B klop Struisies – 33 - 0
Gimmies o. 16-A klop Struisies – 52 - 12
Gimmies o. 15-A klop Struisies – 22 - 12
Gimmies o. 14-A verloor teen Struisies –5 - 17
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’