OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Adias-rugbyklub van Volmoed, wat vanjaar sy debuut in die SWD Presidentsliga maak, het Saterdag op Oudtshoorn sy eerste oorwinning in dié liga behaal toe hy Willowmore met 27-10 geklop het.
Lional Prinsloo, afrigter van Adias, het na die wedstryd gesê dat die span hierdie oorwinning opdra aan sy getroue ondersteuners wat hom deur dik en dun bygestaan het. ''Die manne voel nou meer gevestig in dié liga en ek is oortuig daarvan dat ons nog baie spanne vanjaar gaan verras.''
Vir Adias het Charlton Prinsloo (vleuel), Roberto Mauton (flank), Realdo Muller (agsteman) en Greg Julies (heelagter) elk 'n drie gaan druk. Bradley Arries (losskakel) was suksesvol met twee doelskoppe en een strafskop.
In nog 'n SWD Presidentsliga wedstryd het Collegians verlede naweek vir Uniondale in Uniondale met 25-17 geklop.
Kango United van Schoemanshoek het Glen Roses van Avontuur Saterdag in 'n Karoostreekliga wedstryd oortuigend met 24-8 gewen het.
In 'n SWD Premierliga wedstryd het Bridgton vir die tweede keer na mekaar vasgeval toe hy Vrydagaand teen George op die Bridgton-sportterrein met 27-21 die knie moes buig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'