OUDTSHOORN NUUS - Die rugbyspan van Dysselsdorp Rangers het Saterdag hul derde agtereenvolgende oorwinning in die Karoo-streekliga behaal, toe hulle Kango United met 66-5 karnuffel het. Die rustydtelling was 31-0 in die tuisspan se guns.
Rangers wat deesdae onder nuwe afrigting speel, het in die proses 10 drieë gedruk.
"Die span wemel van jong spelers en die afrigtingspan slaag goed daarin om jeug en ervaring te meng. Die senior spelers tree ook op as mentors vir die jonger spelers en in die proses groei die jong manne geweldig in selfvertroue," sê Arnold Claassen van Rangers.
Rangers se pak puik voorspelers het definitief die grondslag vir hul wegholoorwinning gelê. Vir Dysselsdorp het kaptein Deidric Booysen (senter), Dawid Coerecius (stut) en Davestin Esau (heelagter) elk twee drieë gedruk. Ander drieë is deur die vleuel, Caserino Lewis, Eric Campher (plaasvervanger), Donnie Makonie (plaasvervanger) en Denzil Oktober (plaasvervanger) gedruk. Esau het agt van hierdie drieë verdoel vir ‘n persoonlike bydrae van 26 punte.
Uitblinkers vir Dysselsdorp was voorlangs Sammy-Jo van Aswegen (haker), Leeroy Jansen (flank) en Peet Samson (slot). Agterlangs het die skakelpaar André Belelie (losskakel) en Danielo Antonie (skrumskakel) ook die oog gevang.
Rangers het ook vroeër vanjaar die Karoostreek 7’s-toernooi op sy tuisveld gewen toe hulle Calitzdorp in die finaal geklop het.
Dysselsdorp Rangers reis eerskomende naweek na Avontuur vir hul wedstryd teen Glenroses.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'