OUDTSHOORN NUUS - Collegians het hulle plek in die uitspeelrondes van die Presidentsliga verseker deur Spring Roses die afgelope naweek met 26-10 op die Bridgton-sportterrein te klop. Collegians het rustyd met 12-0 voorgeloop.
Die wedstryd is gekenmerk deur skitterende hardlooprugby deur albei spanne. Collegians het egter eerste bloed geruik toe die slot, Francois Botha, gaan druk het.
Daarna het Collegians weer toegeslaan met 'n verdoelde drie.
Na rustyd het Spring Roses teruggeslaan met 'n onverdoelde drie deur die regtervleuel, Scott Pretorius. Pretorius het na goeie samespel tussen voor en agterspelers Collegians se verdediging oopgekloof om te gaan druk. Net daarna het die skrumskakel, Dominic Smit, weer Collegians se verdediging aan die slaap gevang en 'n onverdoelde drie gedruk.
Met die telling op 12-10 in Collegians se guns kon die wedstryd enige kant toe geswaai het.
'n Strafdrie vir Collegians na 'n skrum het egter Spring Roses se wind uit hulle seile gehaal en Collegians met 19-10 laat voorloop. 'n Verdoelde drie laat in die tweede helfte het die wedstryd vir Collegians verseël.
Uitblinkers vir Collegians was hulle hele
agtal wat Roses in die skrums verniel het. Agterlangs het Roegelien Campher, Shedwick Sauls en Ronaldo Botha 'n barshou gespeel. Vir Spring Roses het Riaan Lottering en Elton Oosthuizen voorlangs uitgeblink.
Agterlangs het Smit en Pretorius vir Collegians hoofbrekens besorg. Collegians se afrigter, Seppie Ekstraal, sê hy was baie tevrede met sy spelers se vertoning in die wedstryd. Die hele span is aangewys as speler van die wedstryd.
Vir Collegians het Roegelin Campher (heelagter), Shedwick Sauls (losskakel) en Francios Botha gaan druk. 'n Strafdrie is ook aan die span toegeken. Ronaldo Botha, skrumskakel, het twee drieë verdoel.
Spring Roses se B-span het Collegians met 29-8 verslaan.
Collegians reis Saterdag na Prins Albert waar hulle in die kwarteindstryd teen Willing Hearts te staan sal kom.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'