OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Die A-span van Collegians het Adias-rugbyklub van Volmoed Vrydagaand op die Bridgton-sportterrein in 'n opwarmingswedstryd met 33-14 geklop.
Adias het in die eerste helfte gesukkel om hul voete te vind en kon as 'n eenheid net nie aan die gang kom nie. Collegians se voorspelers het daarenteen in die eerste helfte reeds die grondslag gelê vir 'n oorwinning en was welverdiend teen rustyd met 26-7 voor op die telbord.
Adias speel vanjaar vir die eerste keer in die span se geskiedenis in die SWD Presidentsliga nadat hy verlede jaar eerste geëindig het in die Karoo-streekliga en sodoende bevorder is.
Volgens Adias se afrigter, Lional Prinsloo, was die opwarmingswedstryde 'n gulde geleentheid om kombinasies te toets voordat die SWD Presidentsliga in alle erns volgende week begin. "Die telling was nie vir ons so belangrik nie, maar ten minste het die afrigtingskorps nou 'n goeie idee watter kombinasies werk en watter nie werk nie, het hy gesê.
Adias sal teen Spring Roses in sy eerste amptelike SWD Presidentsligawedstryd Vrydagaand, 5 April, op die Bridgton-sportterrein te staan kom. Collegians sal die volgende dag (6 April) teen All Blacks ook op die Bridgton-sportterrein sy eerste wedstryd in dié liga speel.
Chrisifer Snyman druk een van Collegians se driee.
Trompie Campher van Collegians op volle vaart.Foto's Ebenezer Titus
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'