OUDTSHOORN NUUS - Vuurwerke word Saterdag in die halfeind-ronde van die Premierliga-rugbykompetisie verwag.
Bridgton se eerstespan kan Saterdag Evergreens, die verdedigende Premier-liga-kampioene, op die Plate onttroon.
Al drie Bridgton se spanne het deurgedring na die onderskeie halfeindstryde. Bridgton se afrigter, Keith Meyer, is vol vertroue dat sy span Saterdag sal wen om deur te dring na die eindstryd.
Bridgton se eerstespan, wat met 69 punte tweede lê op die punteleer, kom op die Bridgton-sportterrein te staan teen
Evergreens (derde met 65 punte).
Progress (81 punte) pak vir Barbarians van Mosselbaai (61 punte) op die Rosemoor-sportterrein in die ander halfeind-stryd.
Barbarians se tweedespan wat bo-aan die punteleer geëindig het met 66 punte, pak Progress se tweede span, wat tweede geëindig het met 66 punte op sy tuisveld.
In die ander tweedespan halfeindstryd sal Groot-Brakrivier, wat vierde geëindig het met 62 punte, na Oudtshoorn reis waar hul Bridgton die stryd aansê. Laasgenoemde het derde geëindig met 62 punte.
'n Riller word in die derde spanne se half-eindstryd verwag tussen Groot-Brakrivier wat met 75 punte bo-aan die punteleer geëindig het en Bridgton op sy tuisveld wat tweede geëindig het met 70 punte.
In die ander halfeindstryd kom Progress, wat vierde geëindig het met 59 punte teen Barbarians te staan. Laasgenoemde het met 65 punte derde geëindig.
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK & ANDRé STANDER
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Karoo nuus'