OUDTSHOORN NUUS - 'n Verloor was nog nooit 'n wen nie. Maar in die geval van Bridgton-rugbyklub se naelskraapse nederlaag van 18-17 teen Evergreens verlede Saterdag in 'n SWD Super-A-liga wedstryd op die Bridgton-sportterrein, kan 'n mens nie anders om die tuisspan 'n klop op die skouer te gee nie.
Die maroentruie was met ses dae oor voordat die jaar se eerste SWD Super-A-liga wedstryde afskop afrigterloos nadat hul hoofafrigter, Glen Klaas, uit frustrasie met interne politiek, besluit het om te bedank.
Hierdie besluit het meegebring dat Bridgton se bestuur inderhaas 'n nuwe afrigter, Eldridge van Dyk, as dringende plaasvervanger-afrigter van die A-span moes aanstel. Soos verwag met 'n eerste liga wedstryd was dit duidelik aan die begin van die eerste helfte dat albei spanne heelwat roes gehad het om af te skud.
Bridgton was die slegste daarna toe en kon vir die eerste 20 minute in geen fasette net nie aan die gang kom nie.
Hul lynstane was onder enorme druk en hul eerste linie van verdediging was gereeld met die grootste gemak gepenetreer.
Na 'n verdedigingsblaps deur Bridgton se senter, Dean Januarie, het Evergreens hul eerste drie (onverdoeld) in die hoekie gaan druk. Evergreens was ook in hierdie tydperk baas by die afbreekpunte en met die gevolg het die skeidsregter twee strafskoppe na mekaar aan die besoekers toegeken.
Die manne in groen het suksesvol aangelê pale toe en die telling was eensklaps 11-0.
In die 25ste minuut het Bridgton na 'n goeie agterlynbeweging sy eerste punte op die telbord geplaas toe die flank, Altheano Matolla in die hoekie vir 'n onverdoelde drie oorgeval het. Rustydtelling 11-5.
In die tweede helfte het Evergreens wéér eerste bloed geruik toe hulle in die hoekie gaan druk het. Hul senter het verdoel en met die telling nou op 18-5, wou dit voorkom of die wiele vir die maroentruie begin afkom. Die tuisspan het egter stelselmatig sy ritme begin vind en selfs lynstaanballe op kritieke tye van Evergreens gesteel.
Na volgehoue druk op die besoekers se doellyn het Bridgton se agsteman, Ricardo Davids sy span terug in die wedstryd gebring met 'n pragdrie.
Toe Bridgton se losskakel (Booysen) boonop met 10 minute se spel met brute krag deurgebars het vir nog 'n drie wou dit voorkom of die maroentruie tog teen alle verwagtinge die wa deur die drif sou trek.
Die kaptein en senter, Anver Venter het verdoel wat die telling op 18-17 te staan gebring het. Omtrent vyf minute voor die eindfluitjie het Bridgton 'n gulde geleentheid gehad om die wedstryd te beklink toe die einste Venter 'n strafskop van sowat 40 meter misgeskop het. In retrospeksie sou dit dalk beter gewees het om die bal kantlyn toe te skop omdat Bridgton die lynstane in hierdie stadium gedomineer het.
Op die aanval was Venter 'n hand vol, maar dit was duidelik dat hy sy skopskoene by die huis vergeet het toe hy vroeër in die wedstryd relatiewe maklike skoppe na die pale verbrou het. Evergreens het verbete vasgeklou aan hul een punt voordeel en uiteindelik met 18-17 geseëvier.
Bridgton se nuwe afrigter, Eldridge van Dyk het na die wedstryd gesê dat alhoewel daar heelwat areas is waarop sy span moet verbeter, hy oor die algemeen tevrede is wat sy span in 'n bestek van drie dae onder sy afrigting vermag het.
"Evergreens is 'n gedugte span, maar die manne het gewys dat hulle teen van die beste op dié vlak kan meeding. My span se fiksheid en die opskerping van ons verdedigingspatrone sal in die komende dae intensiewe aandag geniet," het hy gesê.
Bridgton se volgende wedstryd is Saterdag 14 Maart teen Barbarians-rugbyklub in Mosselbaai.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'