OUDTSHOORN NUUS - Bridgton-rugbyklub het die afgelope naweek 'n indrukwekkende vertoning gelewer toe hulle teen All Blacks te staan gekom het, met al drie Bridgton-spanne wat oortuigende oorwinnings behaal het.
Die A-span het van die afskop af die tempo bepaal en reeds teen rustyd 'n gemaklike voorsprong van 18 - 3 opgebou.
Met gestruktureerde spel en sterk verdediging het Bridgton die wedstryd uiteindelik met 44 - 10 beklink.
Roden Jonkers, Ethan Myners en Bradwin Wanies het elk 'n drie gedruk, terwyl Ronaldo Jansen twee keer agter die doellyn gaan kuier het.
Roberto Botha was akkuraat met die skopskoen en het 'n drie verdoel asook twee strafskoppe oor die pale gejaag, terwyl Juvanno Jonatha drie suksesvolle doelskoppe bygevoeg het.
Die momentum het deurgespoel na die ander spanne.
Bridgton se B-span het 'n gestruktureerde wedstryd gespeel om met 21 - 10 as wenners weg te stap, terwyl die C-span hul teenstanders met 'n oortuigende 23 - 3 oorwinning geklop het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’