OUDTSHOORN RUGBYNUUS - 'n Afrigter wat vroeër vanjaar deur die Bridgton-rugbyklub bestuur in die pad gesteek is, is nou weer op aandrang van die A-span se seniorspelers heraangestel.
Sedertdien het dié klub reeds vier verskillende afrigters aangestel.
Volgens Eldridge van Dyk, nuutverkose afrigter van die A-span, is hy twee weke gelede deur die A-span se seniorspelers genader om hulle wéér af te rig.
"Dis steeds 'n raaisel hoekom ek in die eerste plek van my pligte onthef is, want op daardie stadium het die span redelik goed gedoen onder my afrigterskap."
"Dis egter nou water onder die brug, en die span se fokus is nou om weer die trots in die maroentrui terug te bring. Ons is dit aan ons getroue ondersteuners verskuldig," sê Van Dyk.
Hy sê dat daar heelwat onderliggende probleme wat hierdie talentvolle rugbyklub tans kniehalter in sy strewe om wéér 'n gevreesde span in die SWD Premierliga te word. "Die goeie nuus is dat dit wel gedoen kan word met die uitsonderlike talent waaroor die klub beskik."
Van Dyk, wat oorspronklik van die Oos-Kaap afkomstig is, is 'n gekwalifiseerde rugbyafrigter volgens die Internasionale Rugbyraad (IRB) se standaarde. Hy beskik oor 'n IRB (vlak 2) en Masterclass-diplomas wat hy in 2012 en 2013 verwerf het.
Bridgton se A-span het verlede Saterdag met die intrapslag (onder Van Dyk se afrigterskap) Blanco van George oortuigend met 41-24 geklop. Dié span was voor Saterdag se wedstryd reeds 10 keer hierdie seisoen aan die verloorkant. "Ons besef maar terdeë dat een oorwinning oor Blanco ons nie ewe skielik baanbrekers maak nie, maar die morele en sielkundige waarde van dié sege moet ook geensins onderskat word nie. Ek kon sien in die boys se oë dat dit baie vir hulle beteken het."
Van Dyk vertel dat hy eintlik 'n hoërskool-rugbyafrigter is en dat Bridgton sy eerste volwaardige rugbyklub is wat hy afrig. Hy glo dat hierdie ervaring hom baie handig te pas kom omdat jy hier met rou talent werk wat hard aan die deur klop om in die A-span opgeneem te word.
Hy het ook beklemtoon dat geen speler in enige amateur of professionele rugbyopset groter as die spel kan wees nie.
"Die afrigter is daar vir 'n rede om soms ongewilde besluite te neem omdat hy op die einde van die dag pa moet staan vir die span se suksesse en laagtepunte."
Hy sê dat hy die Oudtshoorn-rugbygemeenskap kan waarborg dat geen speler homself gedurende sy termyn sal kies nie en dat dissipline op en van die veld hoog op die prys gestel sal word. Volgens hom beoog hy om grootskaalse veranderinge in terme van spankeuses, oefenmetodes, klubkultuur en spelpatrone te bring.
"Natuurlik verwag ek teenkanting uit sommige oorde, maar ek aanvaar dit met graagte omdat ek 'n visie het om Bridgton-rugbyklub in 2020 seisoen weereens kampioene van die Premierliga te maak. Ek wil dit ook onomwonde stel dat ek nie 'n towenaar is wat hierdie doelwitte oornag gaan vermag nie." Dit gaan tyd vat, het hy gemaan.
Seniorspelers
Volgens die seniorspelers in die A-span het hulle in oorleg met die kassier van die klub besluit om Van Dyk te nader om hulle af te rig. " Ons het gevoel dat ons nie langer afrigterloos kan speel nie. Die span het reeds 10 keer vanjaar verloor en ons het al in die verlede met hom gewerk. Coach het ook heel jaar saam met ons span gereis wat beteken dat hy in 'n beter posisie is om ons tekortkominge te identifiseer en aan te spreek. Die spelers vertrou Van Dyk se oordeel, en die manier hoe ons Blanco geklop het, spreek boekdele van sy vermoëns op hierdie vlak."
Bridgton-ondersteuners
Die Oudtshoorn Courant het ook met Bridgton-rugbyklub ondersteuners gesels en die algemene gevoel is dat die klub sy aura as 'n eens gerekende span verloor het. Sommige is van mening dat die huidige bestuur heeltemal ontbind moet word, terwyl ander weer glo dat dié span slegs deur 'n rowwe tydperk gaan. Almal is dit egter eens dat daar veranderinge moet kom, en gou ook. "Omdat daar slegs vyf wedstryde oor is vir die jaar, sal dit waarskynlik die beste wees om die span tot dan ten volle te ondersteun. Daarna kan die rolspelers besluit of die huidige klubstrukture (afrigters en bestuur) bevorderlik is vir Bridgton-rugbyklub se algehele groei op die langtermyn."
Bridgton-rugbyklub se bestuur
Teen druktyd het die bestuur van Bridgton-rugbyklub nie gereageer op die vele navrae wat die Oudtshoorn Courant aan hulle gerig het nie. Ontvangs van navrae is wel bevestig, maar korrespondensie het nooit gerealiseer nie. Daar kan dus nie met sekerheid gesê word of Van Dyk se aanstelling die goedkeuring van die bestuur wegdra nie. Vrae soos of sy aanstelling tydelik of prestasie-gedrewe is, hang ook in die lug.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'